Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Saak teen 3 wat ouerpaar glo aanval, ‘gaan weer hof toe’
Ruan van Heerden en Colson Phelps in die hof kort nadat hulle in hegtenis geneem is. Foto: Deaan Vivier

Die saak van poging tot moord teen drie jong mense wat glo die een se ouers aangeval het, sál weer op die hofrol geplaas word.

’n Sertifikaat van die kantoor van die direkteur van openbare vervolging (DOV) is reeds uitgereik, saam met verdere instruksies in die verband.

Sodra daar aan hierdie instruksies voldoen is, sal Ruan van Heerden (destyds 18), Colson Phelps (destyds 22) en ’n meisie wat 17 jaar oud was ten tyde van die voorval, gedagvaar word om in die hof te verskyn.

Dié versekering kom van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nadat die slagoffers in die steek gelaat voel nadat die saak teen die beskuldigdes in Maart vanjaar in die landdroshof in Pretoria van die hofrol geskrap is weens “onbehoorlike vertragings deur die staat”.

Daardie beslissing het beteken dat die beskuldigdes eers weer op die twee aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en diefstal van ’n motorvoertuig sou kon verskyn as die DOV ’n sertifikaat met geskrewe toestemming hiervoor uitreik.

Die drie beskuldigdes is verlede jaar in hegtenis geneem kort nadat hulle glo in die vroeë oggendure van 10 Januarie 2020 Van Heerden se ouers, Barnie en Magda, in hul huis in Centurion aangeval en vir dood agtergelaat het.

Magda, ’n lupus-lyer, is 36 keer met ’n mes gesteek. Sy was vir langer as vier maande in die hospitaal.

Van die steekwonde was so diep dat dit haar ingewande beskadig het.

Sy moet steeds drie maal per week nierdialisebehandeling ontvang.

Barnie is met ’n mes en ’n gholfstok aangerand. Sy arm is in die voorval gebreek.

Van Heerden, die egpaar se enigste kind, het kort voor die aanval na sy ouerhuis teruggekeer ná behandeling by ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslawing.

Nadat die beskuldigdes aangekeer is, is die meisie in haar ma se sorg vrygelaat.

Barnie van Heerden, wat destyds met ’n mes en ’n gholfstok aangeval is, saam met sy suster, Anneli van den Berg, vroeër by die landdroshof in Pretoria. Foto: Hanti Otto

Van Heerden het sy borgtogaansoek laat vaar toe dit blyk dat hy nie meer ’n vaste adres het nie.

Phelps is in Februarie 2020 borgtog van R8 000 toegestaan.

Daarna is die saak verskeie kere uitgestel sodat hy in die Weskoppies- psigiatriese hospitaal opgeneem kon word vir evaluasie, met die doel om te bepaal of hy toerekeningsvatbaar was gedurende die voorval en of hy sy verhoor sal kan volg.

Toe die hof op 24 Maart vanjaar hoor Phelps is steeds nie opgeneem nie en dat daar blykbaar nog ander ondersoekwerk uitstaande is, is die saak van die hofrol geskrap.

Van Heerden is hierop uit die tronk vrygelaat, wat ’n warboel van emosies by sy pa veroorsaak het.

“Die staat, die gereg, het ons as slagoffers absoluut in die steek gelaat. Ons het reeds in vrees gelewe . . . Nou sit ek met ’n kind wat ’n lewensbedreiging vir my en almal inhou, wat vrygelaat word weens swak ondersoekwerk, swak voorbereiding, ten spyte van waarskuwings van die landdros,” het Barnie gesê.

Hy wou weet wat van slagoffers se regte geword het.

NVG antwoord

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die NVG se Noord-Gauteng-streek, het by navraag aan Netwerk24 gesê normaalweg sou die vertraging rakende Phelps se verwysing na Weskoppies as onbehoorlik beskou kon word, omdat dit gewoonlik nie so lank neem nie.

“ ’n Mens moet egter onthou dat ons land weens die nasionale ramptoestand lank basies tot stilstand gekom het.

“Die Weskoppies-hospitaal het tot laat verlede jaar nie verwysings van die streekshowe af ingeneem nie. Dit het gelei tot ’n agterstand.

“Die NVG het geen beheer oor daardie besluit gehad nie. Die eerste persoon, wat reeds in Januarie 2020 verwys is, is in Februarie 2021 opgeneem,” verduidelik Mahanjana.

Die NVG verstaan die slagoffers se kommer. Ons is net so gefrustreerd. Die NVG het intussen met die slagoffers se regsverteenwoordiger vergader en hou hom op hoogte van verwikkelinge.

Volgens haar was die NVG gereeld met Weskoppies in kontak om ’n plek vir Phelps te kry. Toe die saak vir die laaste keer in die hof was, was hy nr. 23 op die waglys.

“Die NVG verstaan die slagoffers se kommer. Ons is net so gefrustreerd. Die NVG het intussen met die slagoffers se regsverteenwoordiger vergader en hou hom op hoogte van verwikkelinge.”

Intussen het die landdroskantoor in Pretoria ’n verslag aan die DOV gestuur nadat die saak van die rol verwyder is.

Die DOV het onderneem om die aangeleentheid met Weskoppies en/of ander relevante owerhede op te neem.

“ ’n Verdere verslag met aanbevelings, sowel as die saakdossier, is ook na die DOV gestuur, waarin die vereiste sertifikaat om die saak weer op die hofrol te plaas, versoek is.

“Die DOV het daarna die sertifikaat, sowel as verdere instruksies, uitgereik. Die saak sal weer op die hofrol geplaas word.”

Mahanjana voeg by dat, sodra die senior staatsaanklaer aan al die instruksies voldoen en met die slagoffers gekonsulteer het, sal ’n finale besluit oor verdere vervolging geneem word.

Op die vraag of die jong Van Heerden weer opgespoor sal kan word indien die saak voortgaan, sê Mahanjana volgens hul inligting is hy tans vir ’n tydperk van drie weke in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem en dus opspoorbaar.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.