Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Saak teen weermag oor perde sloer, sê NDBV

Die Nasionale Dierebeskermingseenheid (NDBV) sê die polisie in Potchefstroom sleep voete met hul ondersoek na die erge verwaarlosing en beweerde mishandeling van weermagperde.

Een van die weermagperde by die leër se spesialis infanterie-eenheid by Potchefstroom waar die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) onlangs 25 perde moes doodskiet weens verhongering. Foto: NDBV

Ondersoekdossiere van twee sake wat die NDBV hieroor teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) aanhangig gemaak het, het glo ook verdwyn, sê Wendy Willson, eenheidsbestuurder by die NDBV se spesiale ondersoekeenheid.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het dié beweringe Dinsdag ten sterkste ontken.

“Die saakdossiere is trouens reeds by die direkteur van openbare vervolging in Noordwes vir riglyne oor die verdere verloop van die saak. Albei sake wat die NDBV aanhangig gemaak het, word nog ondersoek.”

Myburgh sê die polisie is verbind tot suksesvolle vervolging en dat hulle ten nouste met die departement van justisie saamwerk.

“Die besonderhede van die ondersoekproses is nog sub judice omdat al die inligting (moontlik) nog voor die hof moet dien.”

Myburgh het die NDBV aangeraai om die stasiebevelvoerder in Potchefstroom, brig. Steven Moodley, direk te kontak indien daar in die toekoms weer navrae oor die sake is.

Willson sê die NDBV is “gefrustreerd” met die beweerde gebrek aan vordering in twee sake wat die vereniging sedert Mei 2018 teen die SANW ingedien het.

Die NDBV het in Mei verlede jaar aanklagte teen die weermag se spesiale vaardigheidseenheid vir die infanterie ingedien omdat perde by die weermagterrein buite Potchefstroom glo honger gely het en verwaarloos is. Die verwaarlosing het daartoe gelei dat 25 van die perde van kant gemaak moes word. Van die diere was so uitgehonger dat hulle grond en hul eie ontlasting geëet het, het Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die NDBV, destyds gesê. Altesame 69 perde is verwyder.

LEES OOKBloem-DBV gryp in nadat perde van honger vrek

Die tweede klag is ingedien nadat die NDBV die weermagterrein in Potchefstroom in Julie 2018 weer besoek het en glo gesien het hoe lede van die vaardigheidseenheid sewe perde geskop en geslaan het. Twee van die perde moes van kant gemaak word en nog 40 perde is hierna verwyder.

Volgens Willson het die NDBV later so gesukkel om die ondersoekbeamptes in die onderskeie sake in die hande te kry, dat ’n senior inspekteur spesiaal na Potchefstroom toe gery het om te probeer uitvind hoe die sake vorder.

Dis nou drie maande later en ons het nog geen inligting hieroor van die weermag ontvang nie.

“Die het toe geblyk die dossiere is weg,” sê Willson.

“Die speurders het ook gesê hulle het by verskeie geleenthede probeer om verklarings van die verdagtes te kry, maar dat hulle glo geweier het om hul samewerking te gee.”

Volgens Willson het die NDBV ingevolge die wet op toegang tot inligtings rekords aangevra van interne ondersoeke teen weermaglede wat glo aan die verwaarlosing en mishandeling van die perde in albei sake aandadig was.

“Dis nou drie maande later en ons het nog geen inligting hieroor van die weermag ontvang nie.”

Die SANW het vroeër ontken dat hulle nie hul samewerking met die ondersoek gee nie. Die weermag is Woensdag weer om kommentaar oor die jongste beweringe genader. Hul kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Meer oor:  Weermag  |  Perde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.