Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Saak uitgestel oor SANW-lid sy werk kwyt is

Cariene van Staden (29) het Maandag in die landdroshof in Pretoria-Noord gehoor dat die saak teen ’n voormalige weermagkorporaal wat haar glo byna doodgeskiet het, weer eens uitgestel is.

Hierdie keer omdat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) die beskuldigde in die saak, Jacob Marakalla (35), afgedank het en voortaan nie vir sy regsverteenwoordiging gaan betaal nie.

Jacob Marakalla na een van sy vorige hofverskynings in die landdroshof in Pretoria-Noord. Foto: Deaan Vivier

Gevolglik het sy regsverteenwoordiger hom Maandag aan die saak onttrek.

Marakalla het Van Staden verlede jaar by ’n verkeerslig in Pretoria in die bors geskiet. Sy en haar verloofde, Johan Harmse (29), beweer dat hy hulle kort tevore in sy weermagvoertuig op hul motorfiets gestamp het.

Die paartjie het hom daarna glo agtervolg en Marakalla het glo die sneller getrek toe Van Staden hom gekonfronteer het.

Marakalla ontken skuld en beweer dat hy onder die indruk was dat hy gekaap word.

Die SANW het die hof Vrydagmiddag in ’n brief in kennis gestel dat Marakalla nie meer in die weermag se diens is nie, het landdros Piet Nel gesê. Hy het die saak uitgestel sodat Marakalla nuwe regsverteenwoordiging kan reël.

“Ek verstaan u is gefrustreerd met die verloop van die saak,” het Nel aan Van Staden gesê. “Maar ons kan ongelukkig nie die beskuldigde dwing om vandag met die saak voort te gaan nie.”

Van Staden, wat reeds ingesweer is en Maandag sou getuig, was sigbaar ontsteld.

“Dit is erg vir my, want dit voel hy (Marakalla) kom heeltyd met alles weg,” het sy ná saak gesê. “Ek sal aanhou in die hof baklei, al vat dit vir ewig.”

Marakalla is na bewering op 23 April, terwyl hy op waarskuwing in Van Staden se saak vrygelaat is, in Thohoyandou in Limpopo in verband met ’n gewapende rooftog vasgetrek.

Hy was na bewering in besit van ’n amptelike weermagvoertuig en vuurwapen toe hy in hegtenis geneem is. Hy was toe lid van die (SANW se) BBP-eenheid en die motorbestuurder van genl. Barney Hlatshwayo, die SANW se hoof van gesamentlike operasies.

Hy staan in Limpopo tereg op die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie. Hy is intussen op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Volgens Harmse bly dit frustrerend dat die hofsaak uitgestel word.

“Cariene se ouma en oupa kom elke keer van Benoni af, net om te hoor dis weer uitgestel.”

Marakalla het tot 25 Junie om ’n nuwe regsverteenwoordiger te kry.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.