Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Saak van 4 wat Matie glo vermoor, hoë hof toe

Die saak teen die vier mans wat na bewering die Matie-student Hannah Cornelius in Mei verlede jaar naby Stellenbosch vermoor het, is Vrydag in die landdroshof in Stellenbosch na die hooggeregshof in Kaapstad vir ’n voorverhoor oorgeplaas.

Die voorverhoor vind op 9 Maart plaas.

Eben van Niekerk, Nashwill Julies, Vernon Witbooi en Geraldo Parsons staan tereg op aanklagte van moord en verkragting van Cornelius en poging tot moord op haar vriend Cheslin Marsh.

Hannah Cornelius

Cornelius se lyk is op 27 Mei langs die pad by ’n wynplaas buite Stellenbosch gevind. Sy is die laaste keer lewend in Birdstraat gesien toe sy en Marsh in haar motor gesit het.

’n Gewysigde klagstaat is ook by die hof ingedien.

Luidens die vorige klagstaat staan die beskuldigdes tereg op vier aanklagte van roof met verswarende omstandighede, drie aanklagte van ontvoering, ’n aanklag van poging tot moord, een van moord en ’n aanklag van verkragting. Die aanklagte van moord en verkragting hou verband met die aanval op Cornelius. Die staat voer aan dat die mans Cornelius en Marsh ontvoer het waar hulle in haar blou Volkswagen Citi Golf voor ’n woonstelgebou in Stellenbosch gesit het.

Cornelius en Marsh is volgens die staat met ’n skerp voorwerp soos ’n skroewedraaier gedreig. Marsh is in die motor se kattebak ingedwing en Cornelius tussen die sitplekke van die motor. Hulle het Marsh toe van sy selfoon, baadjie, R40, sy beursie, rybewys, studentekaart, ’n seilplank, rugsak, sy Caterpillar-stewels en twee oorringe beroof. Cornelius is van haar beursie met ’n onbekende bedrag geld, haar selfoon, rybewys, studentekaart en motor beroof.

Die vier mans het daarna glo met die twee studente in die motor na Kraaifontein gery waar hulle Marsh herhaaldelik aangerand, met ’n skerp voorwerp gesteek, met bakstene bestook en vir die dood agtergelaat het.

Die viertal het daarna glo met Cornelius nog in die motor na ’n beboste gebied agter die Reapers Paintball Arena gery, waar hulle haar na bewering om die beurt verkrag het. Hulle is daarna met Cornelius in die motor na die plaas Groenhof buite Stellenbosch, waar Cornelius na bewering twee keer met ’n skerp voorwerp aan die linkerkant van haar nek gesteek is. ’n Skerp voorwerp is vermoedelik ook teen haar kop gegooi en sy is op die toneel dood.

Die staat voer aan die beskuldigdes het later dieselfde oggend nog twee vroue in die Kuilsrivier-omgewing beroof.

Meer oor:  Hannah Cornelius  |  Matie  |  Student  |  Vermoor
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.