Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
SAB, Vinpro hof toe oor verbod

Dit is die vyfde keer dat die regering ’n algehele verbod op drankverkope in Suid-Afrika plaas sedert die pandemie in Maart verlede jaar die land getref het.

En in die vorige vier het die drankbedryf die regering in die howe gepak oor die wettigheid van die verbod en die regulasies en oor hoeveel geld die bedryf verloor omdat hy nie eens alkohol mag versprei of vervoer nie.

Die vyfde drankverbod geld tans en Vinpro en die SAB het die hof om hulp genader. Foto: Jaco Marais

Hierdie stellings is saamgevat in twee hofaansoeke van die wynbedryfsliggaam Vinpro en die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), wat vandeesweek dringende interdikaansoeke in die hooggeregshof in Kaapstad ingedien het in ’n poging om die regering te keer om die verbod verder toe te pas.

Pres. Cyril Ramaphosa het op 27 Junie die jongste verbod op die verkoop en verspreiding van alkohol ingestel. Dit duur tot 11 Julie.

Kort hierna het die drankliggame die howe op ’n dringende grondslag genader om die regering te keer om voort te gaan met die regulasies en te sê dis ongrondwetlik en moet tersyde gestel word.

Die eerste deel van die saak sal fokus op die dringende aansoek, terwyl die verhoor oor die res van die saak, die regulasies en die grondwetlikheid daarvan, in Augustus aangehoor sal word.

Vinpro het in sy aansoek meer gefokus op die verspreiding van alkohol en het die hof gevra om die verbod in spesifiek die Wes-Kaap te lig, hangende die hoofaansoek in Augustus.

Hy voer aan die bedryf moet toegelaat word om alkohol, veral wyn, te versprei.

Hy het ook sy misnoeë uitspreek met die instelling van ’n algehele verbod op drankverkope sonder dat enige wetenskaplike bewyse bestaan dat hierdie regulasies ’n noemenswaardige uitwerking op die bekamping van Covid-19-infeksies het.

Die SAB het op sy beurt gesê die regulasies is irrasioneel en moet tersyde gestel word. Die regering het volgens hom ook nie die regte prosedure gevolg toe hy die verbod weer ingestel het nie. Die bedryf is nie deur die regering betrek by die proses alvorens die aankondiging gemaak is nie.

Die twee liggame het apart hul aansoek by die hof ingedien.

Die sake sou aanvanklik vandeesweek aangehoor word, maar die regering het uitstel gevra op grond daarvan dat hy nie genoeg tyd het om sy repliek in albei sake voor te berei nie.

Regter Robert Henney het die versoek toegestaan en sal albei sake volgende week aanhoor.

Die regering moet sy repliek in die Vinpro-saak teen Sondag indien, waarna Vinpro tot 5 Julie het om ’n repliek in te dien. Dié saak sal op 7 Julie aangehoor word.

In die SAB-saak moet die staat teen 7 Julie sy repliek indien, waarna die SAB teen 8 Julie ’n repliek moet indien. Hierdie saak sal op 9 Julie aangehoor word.

Meer oor:  Sab  |  Vinpro  |  Drankverkope  |  Drankverbod  |  Drank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.