Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sakeman moet opdok nadat hy aktrise aanrand

’n Sakeman van Bloemfontein moet meer as R140 000 aan ’n aktrise betaal nadat hy haar vroeër buite ’n kuierplek aangerand het, het die landdroshof gelas.

Lillo Masienyana moet nou sowat R141 000 aan Seipati Mpotoane betaal nadat hy haar in Augustus 2016 voor Capellos aangerand het.

Mpotoane, wat in verskeie televisieprogramme verskyn het, het beserings aan haar oog, arm, regterbeen, linkerknie en ribbes en verskeie kneusplekke aan haar lyf opgedoen toe Masienyana haar aangerand het. Sy moes ná die voorval mediese behandeling ontvang.

Seipati Mpotoane
Seipati Mpotoane Foto: Seipati Kgosietsile Mpotoane/Facebook

Luidens hofstukke het die sakeman die aktrise met ’n vuis van agter geslaan en haar oraloor op haar liggaam geskop nadat sy neergeval het.

Mpotoane het ’n eis vir pyn en lyding, asook die skade wat die aanranding aan haar reputasie gedoen het, teen Masienyana ingestel.

In ’n pleitverduideliking beken Masienyana die aanranding.

Hy sê hy en ’n vriend het in sy motor buite die kuierplek gesels toe Mpotoane en Thato Mokgothu uit die kuierplek kom. Nadat hy en sy vriend klaar gesels het, wou hy ry. Hy het sy motor se toeter geblaas sodat Mpotoane en Mokgothu, wat voor sy motor gestaan het, uit die pad kan kom.

Volgens die sakeman het die twee vroue aanstoot geneem en wou weet hoekom hy die toeter geblaas het. Hulle het na sy motor geloop, waar Mokgothu hom daarvan beskuldig het dat hy ’n aandeel in haar egskeiding het. Sy het ook alkohol op sy motor se paneelbord uitgegooi, wat skade van R67 000 veroorsaak het.

Luidens sy pleitverduideliking het hy onder meer R10 000 vir mediese onkoste aan Mpotoane betaal, R10 000 vir nuwe bande vir haar motor, en twee nuwe selfone vir haar gekoop. Hy het ook R20 000 aan haar gegee nadat sy glo vir ’n tyd nie gewerk het nie. Masienyana sê ook Mpotoane het in Mei 2017 meer geld gevra, maar hy het geweier om dit te betaal. Sy het hom toe met ’n siviele aksie gedreig.

Mpotoane ontken dit.

Marius van Rensburg van Horn & Van Rensburg-prokureurs het vir Mpotoane opgetree.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Sakeman  |  Aktrise  |  Aanranding  |  Skadevergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.