Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sakeman sluit eks uit oor ‘Ek hou die kar . . . jy die huis’

’n Britse sakeman se eksmeisie het hom hof toe gesleep nadat hy haar uit sy luukse landgoed in Pretoria laat sluit het.

Die twis gaan oor die 2018-model Volkswagen Tiguan wat hy glo vir haar as geskenk gegee het. Dié staan in die landgoed waar sy nou nie mag kom nie, sê Sweetness Khomola (29) in hofstukke as deel van ’n dringende hofaansoek.

Die Willow Acres Estate se ingang. Foto: Willow Acres Estate

Sy sê sy moes sak en pak terugtrek Atteridgeville toe nadat haar eks, Gary Cotterill (60), haar toegangskaart en vingerafdrukidentifikasie by die Willow Acres Estate laat blokkeer het.

Nou het sy die Tiguan nodig om by die werk te kom. Sy is ’n projekingenieur by die Ford-motormaatskappy in Silverton, Pretoria.

Atteridgeville is “berug vir ongemagtigde sporadiese stakings wat bykans daagliks die openbare vervoerstelsel ontwrig”, sê sy.

Maar Cotterill, ’n sakeman, sê niemand het haar gedwing om terug te trek Atteridgeville toe nie. Boonop is stakings en vervoerontwrigting ’n “ongelukkige deel van die lewe van talle Suid-Afrikaners”, lui sy hofstukke.

Ek het gedink haar gevoelens is eg. Dit blyk dit was net vir finansiële gewin.

Khomola en Cotterill se verhouding het in Oktober 2017 begin en sy het sowat ses maande later by hom in die landgoed ingetrek.

Hy het die Tiguan in Augustus 2018 teen R680 000 as geskenk vir haar gekoop, sê Khomola. Dit is ook in haar naam geregistreer.

Cotterill voer egter aan hy het die motor vir homself gekoop om te gebruik wanneer hy in Suid-Afrika is.

Hulle het die oggend van 20 Maart vanjaar ’n woordewisseling op WhatsApp gehad, sê Khomola. Sy was toe by die werk met ’n maatskappyvoertuig en Cotterill oorsee. Sy het die sleutels vir die Tiguan by haar gehad, maar die motor was geparkeer in die oprit by die huis.

Toe sy laatmiddag huis toe gaan, het die landgoed se wagte gesê Cotterill het hulle opdrag gegee om haar nie in te laat nie.

Sy is toe maar na haar ma in Atteridgeville.

Cotterill sê Khomola het hom per WhatsApp laat weet sy het “lank en diep” oor hul verhouding gedink en sy wil dit beëindig en teruggaan Atteridge­­ville toe. Toe laat weet sy hom: “Ek hou die kar . . . jy hou die huis.”

Hy wou sy eiendom beskerm, toe gee hy die hekwagte opdrag om niemand toegang tot die huis te gee nie. Hy was bekommerd oor die inhoud van sy huis en die Tiguan, sê hy.

Hy sê die motor is op Khomola se naam geregistreer omdat hy oorsee was toe dit gedoen moes word. Hy was van plan om dit later in sy eie naam registreer.

“In daardie stadium was ek onder die indruk haar gevoelens vir my is eg. Dit blyk nou dit was net vir finansiële gewin.”

Cotterill sê hy betaal die versekering en as die kar Atteridge­ville toe skuif, styg die premie. “Ek verneem Atteridgeville is berug vir sy hoë misdaadsyfer.”

Die hof het beveel dat die kar in Cotterill se motorhuis toegesluit bly totdat die eienaarskap in ’n aparte hofgeding uitgepluis is.

Nóg Khomola nóg Cotterill mag die motor gebruik. Khomola moes die sleutels en registrasiedokument aan die balju gee.

Meer oor:  Verhoudings  |  Hofsaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.