Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sakeman wil miljoene eis ná 'laster op Facebook'

Dagvaardings vir eise vir skadevergoeding van miljoene rande gaan eersdaags bestel word op mense wat lasterlike bewerings op Facebook oor die bekende Willie Niemann, eienaar van Panasonic in Bloemfontein, gemaak het.

Dit volg ná ’n hewige debat op dié kletsruimte waarna Niemann hofbevele teen drie sakemanne van die stad in die Vrystaatse hooggeregshof gekry het. Hulle moes hul plasings luidens dié bevele verwyder.

Niemann sê in hofstukke die beweringe teen hom is onwaar en lasterlik.

Kobus Senekal, sy prokureur van Matsepes-prokureurs, sê hy het al ver gevorder met die opstel van die dagvaardings. Dit sal waarskynlik vroeg in volgende kwartaal uitgereik word.

Benewens die drie sakemanne is minstens agt ander mense se besonderhede ook al opgespoor met die oog op eise teen hulle, sê Senekal.

Luidens die hofstukke in die aansoeke teen Johan van Tonder van Bloemfontein Staalwerke, handeldrywend as Van Tonder Staalkonstruksies, Theo (Kwagga) Ferreira van Morningside, Langenhovenpark, en Jan Eksteen, ’n direkteur van DIY Superstore in Monumentweg, is Niemann as oneerlik, ongeskik, ’n skurk en slegte mens uitgemaak.

Dit is op die blad van die groep “Bloemfontein Business – Bad and Non Payers” met sy sowat 10 200 lede geplaas.

Niemann is selfs uitgemaak as erger as die sogenaamde Modimolle-monster, Johan Kotzé, wat in 2013 weens die verkragting, aanranding en ontvoering van sy eksvrou en moord op haar seun tot lewenslange tronkstraf gevonnis is.

Talle mense het op die bewerings wat deur Van Tonder begin is, gereageer.

Die voorlopige bevele teen Van Tonder en Ferreira is reeds in die hof bekragtig nadat hulle dit nie teengestaan het nie. Bestraffende kostebevele is teen hulle uitgereik.

Die plasings het begin toe Van Tonder op die Facebook-blad beweer het Niemann wil nie sy seun, Kobus, betaal vir draadheinings wat sy seun vir hom opgerig het nie. Eksteen staan die bekragtiging van die bevel teen.

Hy sê die afleidings wat Niemann maak oor wat hy na bewering sou geplaas het, is uit verband geruk en sonder verdienste. Hy sê dit is billike kommentaar op ander, vroeëre plasings.

Dié aansoek is tot Junie uitgestel.

Meer oor:  Laster  |  Eis  |  Facebook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.