Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sakevrou ‘gee man vrye teuels om boere te bedrieg’

’n Sakevrou van Bloemfontein het haar man “vrye teuels gegee” om boere uit miljoene rande te bedrieg toe haar onderneming swaargekry het.

Kapt. Martin Barker, die ondersoekbeampte, het in die Vrystaatse hooggeregshof getuig dat Zelda Maddocks (40) haar man, Scott Brown (41), as bemarker van haar beslote korporasie, Zelchem Trading, aangestel het om boere te nader om hul vee te koop en te verkoop.

Scott Brown en Zelda Maddocks sit in die beskuldigdebank. Foto: ALZANE NARRAIN

Die egpaar ontken voor regter Sharon Chesiwe dat hulle boere tussen Oktober 2015 en Augustus 2016 in die distrikte van Bloemfontein, Bultfontein en Dewetsdorp met vee­tran­saksies uit R8,6 miljoen bedrieg het.

Barker sê Brown het aan sy vrou gerapporteer en dus moes sy van Brown en die onderneming se doen en late bewus gewees het.

Selfs toe die onderneming swaargetrek het, het Maddocks R150 000 uit Zelchem Trading se bankrekening aan hom gegee om geld uit dobbelary te genereer om die boere af te betaal.

Volgens Barker kan Maddocks nie sê dat sy nie van dié dobbelgeld geweet het nie.

Sy is die enigste een wat tekenreg op die onderneming se bankrekening het. Geld kon dus nie sonder haar medewete in en uit dié rekening betaal word nie, het hy getuig.

Barker beweer dat die egpaar later boere oor en weer bedrieg het om hul skuld by ander boere te vereffen.

Hy het onder kruisondervraging deur die egpaar se regsverteenwoordiger, Adriaan Janse van Rensburg, getuig dat hoewel Maddocks nie regstreeks met die boere gewerk het nie, was sy ’n stille vennoot.

Die feit dat Brown die naam van Maddocks se onderneming gebruik het om die boere te bedrieg, bewys dat sy betrokke was. Sy was op die hoogte van alles, het hy getuig. “Sy het hom vrye teuels gegee om die boere te bedrieg.”

Janse van Rensburg het dit aan Barker gestel dat hulle van die boere terugbetaal het nadat die aanklagte teen hulle by die polisie aanhangig gemaak is.

“’n Persoon wat mense wou bedrieg, sou hulle nie terugbetaal het nie.

Barker het geantwoord dat hulle “dié boere terugbetaal het om hulle sag te maak sodat hulle die boere verder kon bedrieg”.

Vic de Bruyn van die gespe­sialiseerde handelsmisdaadeenheid is die aanklaer.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Scott Brown  |  Bloemfontein  |  Sakevrou  |  Hof  |  Bedrog  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.