SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Hof
Sakevrou in hof ná sy seuns glo betas

Hierdie berig is aangepas om Joggie Rautenbach se kommentaar in te sluit.


’n Vrou van Pretoria word daarvan aangekla dat sy minderjarige seuns van een van die stad se mees eksklusiewe seunskole betas het en met minstens een van hulle orale seks gehad het.

Die 37-jarige vrou se beweerde slagoffers was so jonk as 13 en 14. Van haar slagoffers is leerlinge van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies). Sy het Dinsdag in die landdroshof in Pretoria verskyn op tien aanklagte van onder meer seksuele gereedmaking (groom­ing), dat sy pornografie vir kinders gewys het, seksuele aanranding deur van die seuns te betas en een aanklag van verkragting. Sy is op borgtog van R7 500 vrygelaat.

Die staat voer aan dat sy die misdade oor ’n tydperk van vyf maande gepleeg het. Gedurende dié tyd het sy blykbaar naakfoto’s van haarself aan die seuns gestuur asook ’n video waarin sy haarself bevredig het.

Sy is 18 dae gelede in hegtenis geneem nadat een van die klaers se ouers op die foto’s en video’s op hul seun se foon afgekom het. Ná ’n polisieondersoek is vyf slagoffers geïdentifiseer – twee van hulle 13 jaar oud en drie 14-jariges.

Peregrine Joynt, Affies se hoof, sê hulle is bewus van die beweringe dat van hul skool se minderjarige leerlinge by die saak betrokke is. “Sover ons kennis strek, het geen van die beweerde insidente binne skoolverband plaasgevind nie. Om hierdie rede kan die skool geen kommentaar oor die bewerings lewer nie,” sê hy.

Hendrik Hugo van ENSafrica-prokureurs wat namens van die seuns optree, sê die kinders en hul ouers is “ongelooflik getraumatiseerd” en wil nie oor die voorval praat nie.

Nie die of haar man wou met die koerant praat nie.

Intussen het dit aan die lig gekom dat die vrou glo ook ’n sakeman se idee gesteel het om skoolkinders met ’n taxidiens rond te ry. Gerhard Viljoen, die ontwerper van die Schoolride-app, het drie maande gelede ’n geskrewe aanmaning aan haar gestuur omdat sy na bewering sy idee van ’n app-gegronde saamryklub vir skoolkinders gesteel het en onwettig as LiftLink bemark het.

Sy is ’n direkteur van Mont6 Technologies, ’n maatskappy wat selfoon-apps ontwerp.

Mont6 adverteer Lift­Link op sy Facebook-blad as ’n “trots Suid-Afrikaanse” produk waar ouers wat saamrygeleenthede na skoolgeleenthede vir hul kinders soek, mekaar kan ontmoet. Ouers wat bereid is om kinders rond te karwei, kan registreer as bestuurders en laai dan ander kinders teen betaling op. Die LiftLink-diens is veronderstel om in Januarie te begin.

Viljoen beweer egter dat die vrou die idee van hom gesteel het. Hy sê hy het die afgelope twee jaar die idee saam met programmeerders ontwikkel. Hy beweer Mont6 het sy app op 18 Maart afgelaai en dit net gekopieer.

LiftLink, ’n aparte sake-entiteit, het dit daarna saam met Mont6 bemark.

Toe hy daarvan bewus geword het dat Mont6 sy sagteware gesteel het, het hy vir haar en Joachim Rautenbach, LiftLink se direkteur, gekontak. Hulle het ontken dat hulle sy idee of sy sagteware gesteel het, sê Viljoen. Hy het hulle daarna deur ’n prokureur probeer dwing om hul bedrywighede te staak, maar hulle het hom geïgnoreer. Hy sê hy het dus geen ander keuse as om hulle te dagvaar nie.

"Joggie Rautenbach, LiftLink se direkteur, sê hy het direk met Erhard Smit, Anja se man, 'n kontrak gesluit om die LiftLink-app vir hom te ontwikkel. "Ek het nog nooit eens die vrou ontmoet nie," sê hy.

Hy't ontken dat hy die idee vir LiftLink by Anja Smit ontvang of by Viljoen gesteel het. "Ek het die idee gekry by 'n vriendin wat gesê het sy wens daar bestaan so iets. Eers nadat ons drie maande lank aan LiftLink gewerk het, het ons gehoor van Schoolride."

Hy ontken enige ooreenkomste tussen Schoolride en LiftLink  se sagteware.

 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.