Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Salie-Hlophe trek los teen adjunk-regterpresident

Patricia Goliath, adjunk-regterpresident van die Wes-Kaap, probeer haar man as regterpresident van die Wes-Kaap onttroon sodat sy hom kan opvolg, sê regter Gayaat Salie-Hlophe.

Salie-Hlophe sê uiteindelik is sy die “kollaterale skade” in die aanval op haar man, regter John Hlophe.

Regter Gayaat Salie-Hlophe. Foto: Verskaf

Sy het Goliath Saterdag in ’n verklaring ook beskuldig van rassisme, dat sy in eie belang optree en ’n ongesonde obsessie met die Hlophes se huwelik het.

“Die aantygings teen my is onwaar, en kan afgemaak word as ’n poging om my bespotlik te maak met die uiteindelike doel om my te vernietig,” sê Salie-Hlophe in die verklaring.

Dit kom nadat Goliath ’n maand gelede ’n klag teen Hlophe by die Regterlike Dienskommissie (RDK) ingedien het. Sy beskuldig hom onder meer van verbale mishandeling, viktimisering en intimidasie. Sy sê ook dat hy pro-Zuma in ’n hofsaak was, ongrondwetlik opgetree het deur verdeeldheid te saai en dat hy sy magte in die uitvoering van sy pligte misbruik het.

In haar verklaring beweer Goliath Hlophe en sy vrou, Salie-Hlophe, bring die bestuur van die hooggeregshof in Kaapstad in die gedrang en hy bestuur die afdeling deur vrees en intimidasie.

Sy sê verder hy viktimiseer regters en sy vrou kry voorkeurbehandeling.

Goliath sê sy werk in ’n onveilige, ongesonde en verdrukkende omgewing en sy vra dringende ingryping sodat sy haar werk as adjunk-regterpresident kan doen.

Goliath sê toe sy aangestel is as adjunk, het sy al die pligte van ’n adjunk uitgevoer, maar dit het tot ’n einde gekom toe sy ná ’n termyn as regter in die konstitusionele hof teruggekeer het.

John Hlophe Foto: Felix Dlangamandla

Volgens haar swaai die egpaar die septer in die hooggeregshof en is verskeie regters glo bang vir Salie-Hlophe.

“Salie-Hlophe het mag en sommige regters is bang vir haar. Ek weet dat sy betrokke is by die bestuur van die hof, die toewys van sake en die ontstellendste van alles, beheer het oor wie as waarnemende regters aangestel word.

“Sy kry voorkeurbehandeling en bepaal haar eie werkdae en -ure, terwyl ek gemonitor word.”

Salie-Hlophe sê in haar verklaring die klagte kom nadat Goliath nie ’n regter in die konstitusionele hof kon word nie.

“Sy voel gegrief.”

Sy sê Goliath se aantyging dat sy sekere vryhede en voorregte het wat ander regters nie het nie, is “waansinnig” asook “vals en grens aan naamskending”.

Dit is ondenkbaar dat ’n regdenkende mens, veral ’n vroueregter, valshede oor haar persoonlike lewe kan opper.

“Goliath se kwaadwillige bewerings oor my private lewe is soos missiele om my, my gesin en my gemeenskap te kleineer in ’n poging om my te vernietig en haar eie loopbaan te bevorder.”

Volgens Salie-Hlophe het die aantygings nie meriete nie en is dit gestroop van rasionaliteit en relevansie.

“Die oppergesag van die reg en die reg op gelykheid beteken dat ons almal gelyk is voor die wet, ongeag ons agtergrond, ras, kultuur, geloof en geslag.”

Regter Goliath het Saterdag gesê die kwessie is voor die RDK sy wil “in dié stadium geen kommentaar lewer nie”.

Meer oor:  John Hlophe  |  Gayaat Salie-Hlophe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.