Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sandra Prinsloo moet kothuis ontruim, beslis hof

Die bekroonde Suid-Afrikaanse aktrise Sandra Prinsloo moet teen 19 Desember uit ’n klein kothuis op ’n plaas in die Piketberg-distrik trek, het die hooggeregshof in Kaapstad Woensdag beslis.

Sandra Prinsloo. Foto: Argief/Woordfees

Dit kom ná ’n hofgeding tussen Prinsloo en die eienaars van die plaas waar die kothuis geleë is, waarin die eienaars beweer Prinsloo se huurkontrak is in Oktober 2018 gekanselleer en sy is onwettig op die eiendom.

Prinsloo het glo geweier om uit te trek omdat sy strukturele verbeterings van meer as R1 miljoen aan die kothuis aangebring het, asook bome geplant en ’n tuin gemaak het.

Sy het aangevoer sy het dus ’n retensiereg op die kothuis.

Die eienaars het geweier om haar vir dié verbeterings te vergoed omdat die kontrak dit duidelik stel dat huurders van die kothuis nie vergoed sal word vir veranderings wat hulle aanbring nie.

Patricia Goliath, adjunk-regterpresident van die hooggeregshof in Kaapstad, het beslis Prinsloo beset die eiendom onwettig omdat die huurkontrak gekanselleer is. Prinsloo veroorsaak hierdeur dat die eienaar inkomste verloor.

Die Verlorenvlei-trust is die eienaar van die eiendom en die vruggebruiker is Heletjie Slabber (81). Goliath het gesê Slabber kry nie nou die gepaste huurinkomste vir die eiendom nie en ly finansieel daaronder.

Daarom moet Prinsloo uit die kothuis trek waar sy vir langer as 26 jaar vir sekere tye van die jaar gewoon het, sodat die eiendom teen ’n toepasliker prys verhuur kan word, het Goliath beslis.

Prinsloo het die kothuis ’n paar maande per jaar gebruik en vir tydperke van tot vier maande daar gewoon.

“Sy gebruik nou al baie jare lank die eiendom teen baie lae maandelikse huurgeld. Sy het eiendom in Kalkbaai en dit sal haar nie lank neem om uit te trek nie,” lui die uitspraak.

“Ek glo 30 dae sal genoeg wees vir haar om die eiendom te verlaat. As sy dit nie doen nie, sal ’n balju haar gaan verwyder.”

Ek glo 30 dae sal genoeg wees vir haar om die eiendom te verlaat. As sy dit nie doen nie, sal ’n balju haar gaan verwyder.

Prinsloo is ook beveel om albei partye se regskoste te betaal.

Luidens die hofuitspraak het sy in 2015 agter geraak met die huurgeld en was sy in ’n stadium sowat R45 000 agterstallig. Sy het dit egter volgens die uitspraak ten volle gedelg, en betaal steeds R1 100 per maand vir die huur van die kothuis, al het die kontrak reeds verstryk.

Die partye kon nie ooreenstem op ’n nuwe huurkontrak nie, en Prinsloo was in 2017 ook nie tevrede om die eiendom vir R600 000 te koop nie. Dié bedrag het glo volgens haar nie die veranderinge in ag geneem wat sy aangebring het nie.

“Ek sien nie hoekom die saak verder uitgestel moet word nie,” het Goliath gesê.

Meer oor:  Piketberg-Distrik  |  Sandra Prinsloo  |  Kaapstad  |  Kothuis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.