Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sassa: Dlamini sal tot R1 miljoen moet opdok

Bathabile Dlamini, voormalige minister van maatskaplike ontwikkeling, sal waarskynlik honderdduisende, dalk selfs tot R1 miljoen se hofkoste moet opdok, meen twee regskenners.

Bathabile DlaminiFoto: Argief

Dit volg op ’n eenparige uitspraak Donderdag deur die konstitusionele hof in Johannesburg dat Dlamini in haar persoonlike hoedanigheid aanspreeklik is vir 20% van die hofkoste wat spruit uit 2017 se debakel oor die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa).

Dié hofsaak het betrekking gehad op die geldigheid van Sassa se aanstelling van Cash Paymaster Services (CPS) as diensverskaffer. CPS, ’n private maatskappy, was verantwoordelik vir die kontantuitbetalings van die maatskaplike toelae.

“Ek kan my nie indink dat dit minder as R1 miljoen sal wees nie,” meen dr. Llewelyn Curlewis, ’n regskenner.

“As jy kyk na ’n gewone siviele saak wat in die konstitusionele hof draai, sal jy beswaarlik onder ’n miljoen rand in totaal wegkom. Dis nou vir ’n gewone saak. Hierdie saak is al deur soveel howe. Ons kan egter nog nie met sekerheid sê nie want die rekeninge van die saak moet eers getakseer word,” sê Curlewis.

Dr. Theo Broodryk, hoof van die regskliniek aan die Universiteit Stellenbosch, reken nie Dlamini se koste-aanspreeklikheid sal die miljoenrand-kerf oorsteek nie, maar hy meen steeds “honderdduisende” is ter sprake.

Regter Johan Froneman het Donderdag namens ’n volbank regters die uitspraak gelewer en het verwys na die ondersoek deur oudregter Bernard Ngoepe wat voorheen bevind het Dlamini is persoonlik aanspreeklik vir die koste.

Ngoepe het in sy ondersoek bevind dat Dlamini persone aangestel het om parallele werkstrominge te lei. Dié persone het direk aan haar gerapporteer. Luidens die ondersoek het sy ook inligting van die hof weerhou en valse getuienis aangebied om persoonlike aanspreeklikheid vry te spring.

Luidens die uitspraak het Dlamini nie in goedertrou opgetree nie en was haar optrede “roekeloos” en “nalatig”.

“Dit op sigself is genoegsame rede vir ’n persoonlike kostebevel,” sê Froneman.

Ngoepe se verslag is nou na die nasionale direkteur van openbare vervolging verwys om te besluit of daar ’n saak van meineed teen Dlamini aanhangig gemaak moet word.

Volgens Nicole Fritz van Freedom Under Law (FUL), een van die aansoekers in die saak, is die uitspraak ’n oorwinning vir openbare aanspreeklikheid.

“Maar ek dink dis ook hartseer dat ons al (voorheen) openbare ampsdraers gehad het wat dié magte geniet en misbruik het sodat dié tipe sanksies van die konstitusionele hof nodig was.”

Thandiwe Zulu, bestuurder van die ander aansoeker, Black Sash in Gauteng, sê ook die uitspraak is ’n oorwinning vir aanspreeklikheid – nie net vir die begunstigdes van die toelae nie, maar vir die samelewing in geheel. “Ek dink die hofuitspraak skep ’n presedent vir elke ander departement waar mag misbruik word.”

Dlamini se verweer was dat ’n kostebevel teen haar ’n skending van die beginsel van die skeiding van mag sal wees, maar dié verweer het nie water gehou nie.

“Wanneer howe kostebevele gee, lewer hulle nie uitspraak oor die politieke aanspreeklikheid van staatsamptenare nie,” lui die hofuitspraak. Luidens die uitspraak sal howe kostebevele uitreik, onder meer wanneer mense se regte aangetas word “deur die optrede van ’n staatsamptenaar, wat nie openlik, deursigtig en verantwoordbaar was nie”.

Die hofbevel

* Dlamini is vir 20% van die koste van die saak aanspreeklik, plus die regskoste van die aansoekers Black Sash en Freedom Under Law.

* Die oorblywende 80% van die koste moet deur die eerste, tweede en derde respondente gedra word; onderskeidelik die (huidige) minister van maatskaplike ontwikkeling, die hoof van Sassa en Sassa self.

* Die nasionale direkteur van openbare vervolging moet besluit of daar ’n saak van meineed teen Dlamini bestaan.

Die jarelange stryd

In 2014 het die konstitusionele hof bevind Sassa se kontrak met CPS in 2012 was onwettig en ongeldig.

Sassa is terug hof toe, want hy was bekommerd dat die kontantuitbetalings van die toelae nie sal kan voortgaan nie omdat die Suid-Afrikaanse Poskantoor, wat in CPS se plek aangestel is, nog nie die kontantbetalings kon behartig nie. Sowat 2,8 miljoen begunstigdes, oftewel sowat 25%, ontvang hul toelae in kontant.

Die konstitusionele hof was in 2017 genoop om CPS se onwettige kontrak te verleng omdat Sassa geen ander alternatief gehad het vir die kontantuitbetalings nie. Sassa moes intussen ’n ander diensverskaffer kry.

Dlamini het in Februarie vanjaar weer die hof dringend versoek om die CPS-kontrak met nog ses maande te verleng terwyl die krisis oor die toelae uitgesorteer word.

Die eerste kostebevel:

Dlamini en Pearl Bhengu, destydse waarnemende hoof van Sassa, moes aan die hof verduidelik waarom hulle nie in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklik is vir die dringende aansoek vanjaar om die CPS-kontrak te verleng nie.

Die hof het in Augustus gelas dat Sassa en Bhengu (in haar amptelike hoedanigheid) wel aanspreeklik is vir die regskoste. Die hof het in Dlamini se guns beslis dat sy nie in kwader trou opgetree het toe sy die dringende aansoek gebring het nie, en dat sy dus nie persoonlik vir daardie regskoste aanspreeklik gehou kan word nie.

Meer oor:  Bathabile Dlamini  |  Sassa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.