Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Scholtz-moord: Beskuldigdes kry nie borgtog

Doodsdreigemente, die afwesigheid van ’n vaste woonadres en die moontlikheid om hulle by die ondersoek in te meng, is van die redes wat in die hof genoem is oor hoekom twee van Petrus Scholtz (70) se vermeende moordenaars borgtog geweier is.

Sonder om oogkontak met sy medebeskuldigdes te maak, het Wayne Russouw (31) Dinsdag in die beskuldigdebank in die landdroshof in Port Elizabeth saam met sy ma, Christine (55), sy suster Chantell (35), en sy vriend, Ronald Swartz (24), gesit.

Wayne Russouw (31). Foto: Verskaf

Die bebloede lyk van Scholtz, ’n elektrisiën in die stad, is op 19 Julie langs ’n voetpad tussen bosse in die Fairview-woonbuurt aangetref. Sy hande en voete was vasgebind en plastiek was om sy gesig gebind. Daar was ’n lang snymerk aan sy kop.

Scholtz is glo twee dae voor sy dood onder vals voorwendsels na die Russouws se huis in Woltemadestraat, Kabega Park, gelok, waar hy na bewering vermoor is.

Familielede van Scholtz was Dinsdag in die hof om na die uitspraak van die aansoeke te luister.

Nadat borgtog geweier is, het ’n familielid, wat nie genoem wil word, gesê: “Ons is tevrede met die uitspraak. Dit is veiliger dat hulle agter tralies en nie in die gemeenskap is nie.”

Wayne en Swartz het Dinsdag met strak gesigsuitdrukkings geluister toe landdros Thuli Betela hul aansoek om borgtog van die hand gewys het.

Ronald Swartz (24) Foto: Verskaf

Chantell en Christine het hul borgtogaansoek in ’n vroeër hofsitting laat vaar.

In haar uitspraak het Betela gesê nie Wayne of Swartz het buitengewone omstandighede aan die hof bewys oor hoekom dit in die belang van geregtigheid sal wees om hulle op borgtog vry te laat nie.

In die borgtogaansoek het Wayne in ’n verklaring aangevoer dat hy die enigste broodwinner vir sy vyfjarige kind is, dat hy ’n vaste woonadres het, ’n insleepdiensmaatskappy besit en drie hangende sake van onder meer bedrog, motordiefstal en motorfietsdiefstal teen hom het waarop hy skuld sal ontken.

Swartz het op sy beurt aangevoer hy het ’n vaste woonadres, verdien R100 oor drie dae met die werk wat hy doen, en het drie vorige veroordelings.

Betela het Wayne se getuienis verwerp en gesê luidens ao. Shane Bosch, die ondersoekbeampte, se verklaring besit Wayne geen maatskappy nie en was hy slegs ’n werknemer van ’n insleepdiensmaatskappy, maar hy is nie meer welkom by dié maatskappy nie.

Volgens Bosch was sy vaste adres die huis van die pa van sy vriendin – wat ’n interdik teen hom het – en hy mag nie sy voete daar sit nie.

Betela sê na aanleiding van die getuienis voor die hof sal Wayne se minderjarige kind geensins swaarkry met hom in aanhouding nie, aangesien die kind deur ander familielede versorg word.

Die toneel in die bosse in die Fairview-woonbuurt in Port Elizabeth waar Petrus Scholtz se lyk gevind is. Foto: Argief

Betela het gesê die doodsdreigemente wat Wayne gemaak het teen Chantell en Swartz om nie die polisie te bel nie, asook die feit dat hy Chantell só gewurg het dat die merke aan haar nek nog met sy inhegtenisneming sigbaar was, tel ook teen hom. Sy meen dié optrede bewys dat hy hom by getuies of die ondersoek sal inmeng.

Sy het gesê die moontlikheid dat Wayne ’n vlugrisiko is, is ook ’n werklikheid, omdat hy op die dag van sy inhegtenisneming in sy huis se dak vir die polisie weggekruip het.

“Daar was geen verdere getuienis deur die applikant (Wayne) voor die hof gebring om die staat se saak te betwis nie,” het Betela gesê.

Wat Swartz betref, het Betela hom as ’n gewoontemisdadiger bestempel, wat moontlik weer by misdaad betrokke sal raak indien hy op borgtog vrygelaat word.

Die woonadres wat deur Swartz verskaf is, is ook nie sy eie huis nie, maar dié van sy tannie en oom, en geen alternatiewe adres is deur hom verskaf nie.

Betela het haar uitspraak beëindig deur die saak as baie ernstig te bestempel. Sy het gesê indien die beskuldigdes skuldig bevind sou word, kan hulle vir ’n lang tydperk tronk toe gestuur word. Dit verhoog die moontlikheid van ’n vlugrisiko.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.