Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seesig-grumoord: Ruiters kry nuwe regsverteenwoordiger

“Sy dag sal kom, die gemors.”

Dié woorde het Woensdag in die landdroshof in Bellville opgeklink tydens die verskyning van Kyle Ruiters (21) wat daarvan aangekla word dat hy Lynette Volschenk (32) in haar woonstel in Bellville vermoor en opgesaag het.

Ruiters, wat voorlopig op aanklag van moord teregstaan, se saak moes uitgestel word omdat hy ’n nuwe regsverteenwoordiger gekry het.

Hy sal weer op 7 Januarie in die hof verskyn.

Talle mense wat Ruiters se hofverskyning bygewoon het se boodskap was duidelik: Geslagsgeweld moet stop. Volschenk is een van baie vroue wat vanjaar gewelddadig vermoor is, en haar moord het emosies verder laat opvlam omdat haar lyk wreed geskend is.

Edward McCallum, Ruiters se vorige verteenwoordiger, het Woensdag bevestig dat hy hom aan die saak onttrek het. Ruiters se nuwe regsverteenwoordiger is Howard Andrews.

Ruiters het dit ook hardop in die hof bevestig.

Kyle Ruiters (21)Foto: Jaco Marais
Lynette Volschenk

Vroeër is berig dat die staatsaanklaer tydens Ruiters se vorige verskyning genoem het dat daar “bose goed” op Ruiters se rekenaar gevind is wat die staat eers met McCallum wou bespreek.

McCallum het bevestig dat hy wel die materiaal onder oë gehad het, maar wou nie meer besonderhede gee nie.

“Al wat ek kan sê, is dat ek sedert Dinsdag nie meer sy verteenwoordiger op rekord is nie,” sê McCallum.

Nou het Andrews tyd tot Ruiters se volgende verskyning om deur al die dokumente in die saak te werk.

Ruiters se biologiese ouers, asook sy tante, adv. Theresa Ruiters, was by die hof. Daar was ook ’n familielid van Volschenk, maar nie een van die families wou met die media praat nie.

Ruiters het Volschenk, wat op die tiende verdieping van die Seesig-woonstelgebou gewoon het, na bewering in haar woonstel vermoor, haar lyk vermoedelik met ’n ystersaag opgesaag en met ’n mes gesny, die dele in swartsakke gepak en glo die volgende dag daarvan probeer ontslae raak.

Daar is vroeër berig dat Ruiters glo boeke oor reeksmoordenaars langs sy bed gehad het, en dat die polisie dit ná Volschenk se moord gekry het.

Van Volschenk se liggaamsdele is ook in die woonstel gekry waar Ruiters en sy tante gewoon het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.