Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seesig-moord: ‘Bose goed’ glo op man se rekenaar gekry

“Ontstellende, bose goed” is volgens bronne vertroud met die ondersoek na die moord op Lynette Volschenk (32) op ’n skootrekenaar gevind wat vermoedelik aan haar vermeende moordenaar, Kyle Ruiters (21), behoort.

Kyle Ruiters Donderdag in die landdroshof in Bellville. Foto: Jaco Marais

Ruiters se regspan wil nou toegang tot hierdie inligting hê wat die polisie op die skootrekenaar gevind het. Die staat het egter Donderdag met Ruiters se verskyning in die landdroshof in Bellville gesê dat hulle eers met die verdediging moet praat oor die inhoud wat afgelaai is, voordat enige daarvan aan hulle kan of gaan oorhandig word.

Volgens die staatsaanklaer is die polisie-ondersoek afgehandel en is die saak gereed vir die verhoor. Die saak is tot 11 Desember uitgestel.

Ruiters het op ’n voorlopige aanklag van moord verskyn.

Hy word daarvan aangekla dat hy Lynette Volschenk (32) op 21 Augustus in haar woonstel in die Seesig-woonstelgebou in Loevenstein, Bellville, vermoor het.

Hy het Volschenk, wat op die tiende verdieping van die woonstelgebou gewoon het, na bewering in haar woonstel vermoor, haar lyk vermoedelik met ’n ystersaag opgesaag en met ’n mes gesny, die dele in swartsakke gepak en glo die volgende dag daarvan ontslae probeer raak.

Netwerk24 het vroeër berig dat die polisie, benewens die skootrekenaar ook op notaboeke en ’n klomp regsboeke beslag gelê het, asook boeke wat glo met reeksmoorde verband hou. Dit is in die eenslaapkamerwoonstel gekry waar Ruiters saam met sy tannie, adv. Theresa Ruiters, gewoon het. Die notaboeke was op die bedkassie langs Ruiters se bed en die regsboeke was glo by die matras op die grond waarop sy tannie slaap. Hy het glo in die boeke geskryf dat hy die meester van manipulasie is.

Bronne het toe gesê dat die boeke met die handgeskrewe notas daarin en die boeke wat met reeksmoorde verband hou, reeds oorhandig is aan die hoof van die Wes-Kaapse polisie-eenheid wat reeksmoorde ondersoek.

Hulle het gesê die polisie het die Donderdag nadat Ruiters in hegtenis geneem is, swartsakke met Volschenk se liggaamsdele in haar woonstel en in sy woonstel gekry.

Hy het haar lyk vermoedelik reeds die Woensdag opgesny toe sy vermoor is.

Volschenk is met ’n mes doodgesteek. Sy is na bewering in haar linkeroog deur haar slaap gesteek en is vermoedelik onmiddellik dood.

Netwerk24 het vroeër berig dat Volschenk se moordenaar haar kop, albei haar bene en albei haar arms van haar liggaam afgesny het. Hy het ook haar middellyf in drie dele opgesny.

Haar moordenaar het die Donderdag haar kop in ’n beboste gebied naby die woonstelgebou gaan wegsteek. Dit is die Vrydag ná ’n soektog deur die polisie daar gevind.

Ruiters se tannie sowel as sy biologiese ouers was Donderdag in die hof. Hulle wou egter nie met die media praat nie.

Ruiters self het emosieloos voor hom uitgekyk toe hy sy plek in die beskuldigdebank ingeneem het.

Meer oor:  Seesig-Moord  |  Kyle Ruiters  |  Lynette Volschenk  |  Bellville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.