Die vermeende Seesig-moordenaar, Kyle Ruiters, het ’n bed in die Valkenberg Psigiatriese Hospitaal in Kaapstad gekry.
Ruiters, wat voorlopig op aanklagte van moord en regsverydeling teregstaan, word daarvan beskuldig dat hy Lynette Volschenk op 21 Augustus 2019 in haar woonstel in die Seesig-kompleks in Loevenstein, Bellville, vermoor en daarna onthoof het. Sy is met ’n skerp voorwerp doodgesteek.

Kyle Ruiters met ’n vorige hofverskyning in 2019. Foto: Jaco Marais
Ruiters het ten tyde van die voorval by sy tante, adv. Theresa Ruiters, in ’n woonstel in dieselfde gebou gewoon.
Die hof het Dinsdag gehoor dat Ruiters Dinsdag reeds vir waarneming na die hospitaal oorgeplaas sou word.
In Junie het ’n distriksgeneesheer hom sielkundig beoordeel en bevind dat hy toerekeningsvatbaar is en dat sy verhoor kan voortgaan.
Die verdediging het egter met ’n daaropvolgende hofverskyning daarop aangedring dat die hof hom vir psigiatriese waarneming verwys.
Die hof het in Augustus vanjaar die aansoek van Ruiters se regspan dat hy vir psigiatriese waarneming verwys word, bekragtig.
’n Bed was toe egter nog nie vir Ruiters in die hospitaal beskikbaar nie.
Bronne het toe gesê daar is ’n waglys van tussen tien tot 12 maande vir ’n bed in die hospitaal.
Howard Andrews, sy prokureur, het aan die hof gesê die periode vir psigiatriese waarneming is gewoonlik 30 dae en al die verslae behoort dus teen 15 Januarie gereed te wees om by die hof ingedien te word.
Indien psigiaters van die hospitaal hom ook toerekeningsvatbaar bevind, sal sy verhoor moontlik eers in 2022 in die hooggeregshof in Kaapstad begin. Hy bly in aanhouding.