Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Selfoon lei tot netwerk van verdagtes in Baaitjie-moord

Die selfoonnommer en -boodskap aan die vermoorde Johannes Baaitjie, DA-kandidaat van Daniëlskuil in die Noord-Kaap, was ’n anker-leidraad waarmee die ondersoekbeampte ’n netwerk van verdagtes kon uitsnuffel.

Lt.kol. Dolf Lourens het Woensdag verder hieroor in die opspraakwekkende moordverhoor van Zonizelo Magawu, gewese ANC-takvoorsitter, Richard Hasane, Tshame Frank Baxane, Thompson Mncedisi Mphondomisa en Matthews Legodu in die hooggeregshof in Kimberley getuig.

Lt.kol. Dolf Lourens in die hooggeregshof in Kimberley.Foto: Charné Kemp

Hulle word van die moord op Baaitjie en sy vennoot, Shuping Nouse, asook ontvoering en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en patrone aangekla.

Baaitjie se lyk is met ’n skietwond in sy kop op 18 Augustus 2016 langs die pad by Groenwater buite Postmasburg gekry. Die gewonde Nouse is op 23 Augustus aan sy beserings dood.

Die staat voer aan dat die beskuldigdes ná 2016 se munisipale verkiesing meer winsgewende tenders van ’n ANC-beheerde raad wou kry, en dat Baaitjie in hul pad gestaan het en uit die weg geruim moes word.

’n 062-selfoonnommer wat deur die vermeende moordenaar(s) gebruik is om Baaitjie met die belofte van ’n plaveiselkontrak na Postmasburg – en sy dood – te lok, is aan Magawu se selfoon gekoppel.

Die aktiwiteite van die betrokke 062-nommer het Lourens ook op die spoor van Tiro Legotlho geplaas, wie se 064-selfoonnommer met die betrokke selfoon kontak gemaak het.

Lourens het vasgestel die bewegings van die 064-nommer op 17 Augustus was van Kuruman na Daniëlskuil, van daar na Postmasburg, na Groenwater en via Postmasburg terug na Kuruman, wat ooreenstem met die tye van die moorde.

Legotlho het ’n staatsgetuie geword en daartoe ingestem om op 3 September ’n gesprek met Mphondomisa en Legodu ongemerk op te neem. Hy moes hulle uitlok om oor die vuurwapen, en oor die geld wat Legodu aan Legotlho betaal het, te praat.

Lourens het Mphondomisa en Legodu op 6 September in Daniëlskuil en Hasane in Kuruman in hegtenis geneem. Hasane het ontken hy het ’n patroondoppie en holster wat in die bagasiebak van die Jetta-voertuig was waarin Baaitjie na bewering ontvoer is, vernietig. Baaitjie se bloed is later in die voertuig, wat aan Hasane se meisie behoort, gevind.

Legotlho het beweer op die betrokke aand op pad na Groenwater het die bagasiebak oopgegaan. Hulle het die agterste sitplek teruggevou en Baaitjie in die bagasiebak geskiet.

Met sy inhegtenisneming op 19 Augustus het Magawu aangevoer hy het sedert 15 Augustus geen selfoon gehad nie, en die verlies daaraan by die selfoonwinkel aangemeld.

Lourens het op die selfoonwinkel se kringtelevisiemateriaal gesien hoe Magawu op 17 Augustus omstreeks 09:30 ’n selfoon uit sy sak haal en dit twee keer teen sy regteroor druk. Hy koop dan die betrokke 062-simkaart waarmee daar net voor 10:00 die eerste keer met Baaitjie en later met Legotlho kontak gemaak is.

Op die betrokke aand het Legodu en Baxane se selfone 13 keer kontak met mekaar gehad. Baxane se selfoonbewegings toon aan dat hy toe ook in Postmasburg en Groenwater was.

Die verhoor duur voort.

Meer oor:  Johannes Baaitjie  |  Noord-Kaap  |  Daniëlskuil  |  Moord  |  Selfoon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.