Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Senekal: Dís wat in die hofgebou gebeur het

“Skiet my, skiet my,” het 'n man glo in Senekal aan ’n vroulike polisielid geskree oomblikke nadat 'n groep boere daar by die hofgebou ingemaal het.

Een van die boere, wat by was toe die landdroskantoor op die dorp bestorm is nadat twee mans daar verskyn het ná die moord op die 22-jarige Brendin Horner, het aan Netwerk24 vertel wat die dag daar gebeur het.

'n Groot groep mense het na die hofgebou opgeruk uit woede weens die wrede manier waarop Horner vermoor is. Gemoedere het hoog geloop en 'n polisievoertuig is onder meer aan die brand gesteek.

Die boer vertel André Pienaar, wat midde in die drama was en nou aangekla word van terrorisme, poging tot moord, aanhitsing tot geweld en openbare geweldpleging, het in 'n stadium aan ’n vroulike polisielid gevra om die twee vermeende moordenaars te bring sodat hulle die boere kan sien.

Sy het geweier en aan die groep gesê om pad te gee. Daar was ’n woordewisseling tussen haar en van die mans wat by die hofgebou wou ingaan.

“Gaan jy al dié mense in hegtenis neem,” het Pienaar aan haar gevra en gewys na die sowat 100 mense wat buite die hof saamgedrom het.

Die twee koeëlgate. Niemand weet wie dié skote in die hof se betaalkantoor geskiet het nie. Foto: Alet van der Walt

In ’n stadium het die mans aan die polisie gesê om pad te gee.

’n Manlike polisielid en van die mense naaste aan hom was in ’n hewige woordestryd voordat die twee polisielede met brute krag uit die pad gedwing is.

“Dit was rof. Daar was ’n gestamp en ’n gestoot en die ouens was kwaad, want die houding van die polisielede wat in die deur gestaan het, het die manne laat rooi sien,” vertel die boer.

“Hulle het niks gedoen om die gemoedere te kalmeer nie. Hulle was uitdagend.”

Die manlike polisielid is saam met sy vroulike kollega deur die groep mense meegesleur en by die hofgebou ingestoot.

Toe hulle so ’n ent in die gebou in was, het dié polisielid glo paniekerig geraak met die stotende, stampende groep mense om hom en het sy vuurwapen uitgepluk.

“Toe point hy ons.”

’n Polisievoertuig brand vandeesweek by die landdroshof in Senekal in die Oos-Vrystaat. Foto: Mlungisi Louw

Die polisievrou het ook haar vuurwapen getrek, maar op ’n halfhartige manier.

Van ons het platgeduik. Almal het vir ’n oomblik tot stilstand gekom en toe skreeu iemand ‘skiet my, skiet my’.”

“Ek glo dit het die situasie ontlont. Dit was baie gevaarlik en op daardie tydstip kon van ons doodgegaan het.”

“Ek het besef mense kan seerkry. Van die ouens is links by die gebou in. Die polisie is saam met die ander regs na die selle. En toe klap daar twee skote van links af. Ek weet nie wie geskiet het nie, maar dit was nie iemand in ’n uniform nie.

“Iemand het geskreeu moenie skiet nie. Toe is ek en nog ouens buite om die gebou na die selle.

“Die energie was verskriklik. As die een ou moeg word en ’n bietjie briek aangedraai het, dan het ’n ander ou oorgevat.

“Dit was asof ’n energie van woede deur almal gespoel het.”

’n Ander man vertel wat by een van die aanhoudingselle gebeur het.

Twee ou kalante van Senekal, net bekend as Kingsley en Mohammed, was vir hul gewone streke in die selle.

Die een het glo ’n sak klere gesteel, die ander ’n televisiestel.

Dit was asof ’n energie van woede deur almal gespoel het.

Die twee het glo in doodsangs gesit en luister hoe skote klap, ’n deur afgebreek word en hoe woedende mansstemme al hoe nader kom.

Teen dié tyd het almal geweet Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44), vermeende moordenaars van Brendin Horner (21), het hier in die hof verskyn.

Toe die betogers by die selle inbars, het die twee in doodsangs glo letterlik teen die tronkmure uitgeklim, op soek na ’n ontsnaproete.

“Een van hulle het in Sotho geskreeu ‘skiet ons dood voor die boere ons vat’, maar gelukkig het van die ouens geweet hoe lyk die twee wat weens die moord aangehou word,” vertel die man.

Niemand weet of die vermeende moordenaars in daardie stadium nog in die aanhoudingselle was nie. Die polisie het aanhou sê hulle is reeds weggevat.

Niemand het gesien wie die selle probeer afbrand het nie en ook nie hoe die bakkie aan die brand geraak het nie.

“Miskien het die bakkie maar vanself begin brand omdat sy petrol uitgeloop het,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.