Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sentrums vir kinder-ontwikkeling moet hul geld kry

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het haar “statutêre plig versuim” om toe te sien dat subsidies aan vroeë kinderontwikkelingsentrums betaal word en die gevolge daarvan vir versorgers en die kinders “is skrikwekkend.”

Regter Nicolene Janse van Nieuwenhuizen het in die hooggeregshof in Pretoria ook al die provinsiale LUR’e vir maatskaplike ontwikkeling, behalwe die van die Wes-Kaap, voor stok gekry en bevind dat hulle óf nie die haglike toestande in minderbevoorregte gemeenskappe verstaan nie “of bloot nie omgee vir die nood van jong weerlose kinders in hul gemeenskappe nie.”

Dié bevindings is vervat in die hofuitspraak wat Dinsdag gelewer is in die aansoek van die maatskappy SA Childcare en sewe ander instansies teen die minister en LUR’e vir die uitbetaling van subsidies.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling. Foto: Argief

Vroeë kinderontwikkelingsentrums is aan die einde van Maart op vlak 5 van die inperking gesluit. In die Wes-Kaap is egter voorsiening gemaak dat die sentrums steeds kos verskaf aan die kinders wat dit gewoonlik bywoon. Vir die sentrums in ander provinsies was dit sedertdien ’n “bittere en voortslepende stryd om te heropen,” het die regter bevind.

Hoewel die hooggeregshof in Pretoria op 7 Julie beveel het dat die sentrums, onderhewig aan veiligheidsmaatreëls, onmiddellik heropen was dié hulp “van korte duur” is bevind.

Omdat baie van die sentrums sedert April geen befondsing gekry het nie, het hulle permanent toegemaak. Toe staatsubsidies hervat is, het slegs die wat in bedryf was in aanmerking gekom.

“Dit het die sentrums in arm gemeenskappe in die netelige posisie geplaas dat hulle nie sonder die subsidie kan open nie, maar indien hulle toe bly kry hulle nie die subsidie nie!” sê Janse van Nieuwenhuizen in haar uitspraak.

Sy het bevind dat die minister en LUR’e se “ontkenning van hul statutêre en grondwetlike pligte en verantwoordelikhede dwarsdeur die hofsaak, is ’n ernstige rede tot kommer, veral as mens die onderwerp wat betwis word in ag neem.”

Die LUR’e het in hul opponerende verklaring aangevoer: “Provinsies het nie kinders aan honger uitgelewer nie. Die applikante se bewerings in dié verband is sensasioneel en oningelig.”

Sy het dié stelling uitgesonder as “besonder kwetsend en vernederend” vir die mense wat dienste aan weerlose kinders lewer en dit bestempel as “algehele traak-my-nie-agtige arrogansie” van die staat.

Sy het die minister en LUR’e beveel om seker te maak dat die subsidies aan alle vroeë kinderontwikkelingsentrums wat voor 31 Maart gesubsidieer is, uitbetaal word - ongeag of die sentrums hul dienste hervat het of nie.

“Om my misnoeë met die staat se houding in die saak uit te spreek word ’n bestraffende kostebevel gemaak,” het die regter bevind.

Die staat moet daarom die regskoste van die applikante ook dra.

Meer oor:  Lindiwe Zulu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.