Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seriti-kommissie het nie aan wetlike beginsels voldoen, sê hof

Die Seriti-kommissie, wat bevind het daar was geen ongerymdhede rakende die sogenaamde wapenskandaal waarby oudpres. Jacob Zuma betrek word nie, se bevindinge is Woensdag deur die hof tersyde gestel.

Dié waterskeiding-uitspraak volg nadat die organisasies Corruption Watch en Right2Know verlede jaar ’n aansoek voor die hooggeregshof in Pretoria gebring het om die bevindinge te laat hersien.

Die hof het bepaal die kommissie, wat belastingbetalers glo R140 miljoen uit die sak gejaag het, het nie aan wetlike beginsels voldoen nie.

“Diegene wat in die verlede die kommissie se verslag gebruik het om hulself te verontskuldig, sal dit nie nou meer kan doen nie. Ná die hof se uitspraak beteken die bevindinge nou niks meer nie,” sê Tara Davis, ’n woordvoerder van Corruption Watch.

Regter Willie SeritiArgief: Brendan Croft
Regter-president Dunstan MlamboArgief: Yolande Snyman

Die multimiljardrand-wapenooreenkoms is in 1999 gefinaliseer en verskeie oorsese maatskappye het voordeel getrek deur onder meer oorlogskepe, duikbote en helikopters aan die Suid-Afrikaanse Weermag te verskaf.

Daar is beweer dat die ooreenkoms sekere sleutelfigure in die ANC bevoordeel het, onder andere oudpres. Jacob Zuma, Chippy Shaik, destydse hoof van aankope van die weermag, wyle Joe Modise, oudminister van verdediging, en sy raadgewer, Fana Hlongwane.

Regter-president Dunstan Mlambo, wat Woensdag die uitspraak namens ’n volbank regters gelewer het, het benadruk dat die hof nie gelas is om oordeel oor die wapenooreenkoms self te gee nie.

Die hof moes uitsluitlik bepaal of die kommissie, wat dié ooreenkoms ondersoek het, die regte prosedures gevolg het.

Die hof het beslis dit was nie die geval nie.

Die kommissie het sleutelgetuies se getuienis afgeskeep en het ook nie ag geslaan op belangrike verslae en bevindinge van die hof nie, het Mlambo gesê.

“Die kommissie was veronderstel om uitsluitsel oor die vrae rondom die wapenooreenkoms, wat Suid-Afrika amper sedert die aanvang van demokrasie teister, te gee. Daar is egter versuim om deeglik ondersoek te doen.”

Die Seriti-kommissie het onder meer nie ag geslaan op die rekord van die hof wat Schabir Shaik, Zuma se finansiële raadgewer, in 2005 skuldig bevind het aan bedrog en korrupsie rakende die wapenooreenkoms nie.

Daar is destyds beweer dat Zuma deur Shaik betalings van die Franse wapenvervaardiger Thomson-CSF (later Thales) ontvang het.

Zuma staan steeds tereg op aanklagte van afpersing, korrupsie, geldwassery en bedrog rakende 783 betalings wat hy na bewering in verband met die wapenooreenkoms ontvang het.

Zuma het in Mei ’n aansoek in die hooggeregshof in Pietermaritzburg gebring om die aanklagte teen hom te laat vaar. Uitspraak is nog nie gelewer nie.

Regter-president Mlambo het in die hof gesê Woensdag se uitspraak in Pretoria is die eerste in sy soort in Afrika, waar die hof by ’n kommissie van ondersoek se bevindinge inmeng.

Die hof se beslissing is volgens hom geregverdig omdat die kommissie se ondersoek nie aan wetlike beginsels voldoen het nie.

Davis sê die beslissing gee nou riglyne waaraan enige kommissie van ondersoek in die toekoms moet voldoen om te vermy dat sy bevindinge deur die hof tersyde gestel word.

Volgens haar het die Seriti-kommissie se verslag nooit in die pad van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gestaan om vervolgings te doen nie.

“Tog kan diegene teen wie daar verdoemende beweringe gemaak word, nie meer agter die kommissie se bevindinge, wat hul kwytgeskeld het, wegkruip nie.”

Meer oor:  Willie Seriti  |  Wapenskandaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.