Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seriti-kommissie se bevindings in hof uitgedaag

Twee waghondorganisasies gaan die omstrede bevindings van die Seriti-kommissie oor die multimiljardrand-wapentransaksie in die hooggeregshof in Pretoria uitdaag.

Corruption Watch (CW) en die Right2Know Campaign (R2K) het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle berei voor om dié bevindings in die hof uit te daag.

Hul hofaansoek word in September ingedien.

Kenners en politici het pres. Jacob Zuma se aankondiging oor die kommissie se bevindings in April as ’n klugspul beskryf.

Zuma het toe gesê die kommissie, wie se ondersoek R113 miljoen gekos het, het geen bewys van ongerymdhede, bedrog of omkopery gevind nie.

CW en R2K sê die kommissie se opdrag was om bewerings van korrupsie met die wapentransaksie te ondersoek.

Ná drie jaar het die kommissie sy ondersoek gestaak en gesê daar is geen bewyse van korrupsie nie, ondanks “massiewe getuienis” waarna nie eens gekyk is nie, sê die organisasies.

“Letterlik miljoene dokumente, ingesamel en geberg deur die nou ontbinde Skerpioene, is nie bestudeer nie.”

Die organisasies wil met die hofaansoek die kommissie se bevindings ter syde laat stel, “op die grondslag dat die kommissie misluk het om sy mandaat uit te voer”.

Die mandaat was om ’n “volle en onafhanklike ondersoek oor die saak te doen,” sê hulle.

Die kommissie se bevindings is wyd gekritiseer omdat dit “eenvoudig getuienis aanvaar het wat voorgelê is deur dié wat betrokke was by die wapentransaksie, sonder om dit te bevraagteken of te toets”.

Die organisasies sal nie die daarstelling van ’n nuwe ondersoek vra nie, maar slegs vra vir die tersydestelling van die kommissie se bevindings.

As dit tersyde gestel word, sal dit ’n belangrike presedent daarstel vir die werk van toekomstige kommissies van ondersoek, meen hulle.

Die organisasies sê die kommissie is uit die staanspoor gekenmerk deur prosedurele onreëlmatighede.

Noodsaaklike inligting en dokumente is van die publiek, getuies en deelnemers weerhou, word beweer.

Noodsaaklike getuies is nie geroep nie en getuies wat as “kritici” beskou is, is onbillik gedwarsboom.

Verskeie personeellede van die kommissie het uit protes teen die kommissie se optrede bedank.

Die geloofwaardigheid van die bevindings is ondermyn, sê hulle.

Meer oor:  Seriti-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.