Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Centurion-aanval: Vriendin in Waterkloof vasgetrek
’n Polisieman begelei Ruan van Heerden (18) terug na die aanhoudingselle in die landdroshof in Pretoria, waar hy Maandag op aanklagte van poging tot moord, roof met verswarende omstandighede en motordiefstal verskyn het. Foto: Deaan Vivier

Die polisie het Maandagaand nóg 'n deurbraak gemaak ná die aanval op Barnie en Magda van Heerden van Centurion toe hulle die 17-jarige vriendin van Ruan, die egpaar se seun, in verband met die voorval in hegtenis geneem het.

Brig. Mathapelo Peters, Gautengse polisiewoordvoerder, het Maandagaand bevestig dat die meisie in Waterkloof in Pretoria in hegtenis geneem is. 

Sy sal volgens Peters na verwagting Dinsdag op aanklagte van poging tot moord en die gebruik van ’n voertuig sonder die eienaar se toestemming in die hof verskyn. 

Volgens betroubare bronne blyk dit ook dat daar glo ook na ’n derde persoon in verband met die voorval gesoek word. Peters kon dít nie dadelik bevestig nie.

Luidens die klagstaat teen Van Heerden het hy in die aanval op sy ouers met ’n gemeenskaplike doel opgetree.

Dit beteken hy het nie alleen opgetree nie, maar saam met ander met die doel om iemand leed aan te doen.

Van Heerden het Maandag stoksielalleen in die landdroshof in Pretoria op twee aanklagte van poging tot moord, een aanklag van roof met verswarende omstandighede en een van motordiefstal verskyn.

Luidens die klagstaat het hy tydens die aanval ook selfone, ’n beursie met bankkaarte, kontant, ’n hardeskyf en ’n handsak gesteel.

Uit die klagstaat blyk dit ook dat sy pa met ’n gholfstok en mes aangerand is, terwyl sy ma met ’n mes gesteek is.

Netwerk24 het vroeër berig dat Barnie se arm ook in die voorval gebreek is. Magda sterk nog aan in die Milpark-hospitaal in Johannesburg.

Nie Barnie óf enige ander familielede of vriende was Maandag by Van Heerden se hofverskyning teenwoordig nie.

Van Heerden het nie omgekyk na die openbare galery nie en het aan landdros Thandi Theledi gesê hy sal by Regshulp Suid-Afrika om regsverteenwoordiging aansoek doen.

Sy saak is vir ’n week uitgestel om die polisie kans te gee om die ondersoek af te handel.

Theledi het die staat opdrag gegee om seker te maak dat Van Heerden geen vorige veroordelings het nie.

Ruan van Heerden (18) het Maandag alleen in die landdroshof in Pretoria op aanklagte van onder meer poging tot moord op sy ouers verskyn.Foto: Deaan Vivier

By navraag oor Van Heerden se hofverskyning het Stiaan Bekker, Barnie se vennoot by die Veritas-eksekuteurskamers, gesê die familie probeer “eers als verwerk”.

“Die familie is baie hartseer oor alles wat gebeur het,” het hy gesê.

Bekker wou nie verder uitbrei oor die saak nie en het Netwerk24 verwys na ’n verklaring wat hy Maandag namens die familie uitgereik het.

Luidens dié verklaring wil die egpaar nie met die media praat nie.

Hulle wil alles verwerk en sterk goed aan, maar emosioneel gaan dinge nie goed nie, het Bekker gesê.

Sekere dinge wat in die media gepubliseer is, is vir hulle traumaties.

“Die polisie is besig met die ondersoek en die proses moet sy verloop neem. Hoorsê moenie berig word nie, synde dit moontlik die ondersoek kan beïnvloed,” sê Bekker.

Bekker het ook bevestig dat Van Heerden nie leergestremd is nie en die afgelope drie jaar tuisonderrig ontvang het.

Oor die aanval het Bekker gesê dit is net die polisie wat nou verdere inligting kan verskaf.

* Nadat die Van Heerden-egpaar Donderdagaand in hul huis in Pierre van Ryneveldpark, Pretoria, aangeval is, was Magda se beserings so ernstig dat sy per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem is. Barnie is intussen ontslaan.

Die polisie het Van Heerden die volgende dag naby Aliwal-Noord in die Oos-Kaap in ’n Uber gekry en in hegtenis geneem.

Meer oor:  Ruan Van Heerden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.