Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seun getuig hoe hy vermoorde ma in hul huis aantref

Sy ma het nie soos gewoonlik geantwoord nie toe hy van die skool af by die huis kom en haar roep.

“Ma, ma, ma,” het Rolf Wiers jr. (18) op 7 Februarie 2017 omstreeks 14:00 na Tanya Wiers (44), sy ma, in hul huis in Polokwane geroep.

Rolf het Donderdag in die hooggeregshof in Polokwane getuig hoe hy na sy kamer geloop en sy skoolskoene uitgetrek het. Hy was 16 en ’n gr. 9-leerling aan die Hoër Tegniese Skool Tom Naudé. Hy het van die skool af huis toe geloop.

Frans Maela (28) het Tanya Wiers van Polokwane glo verkrag, beroof en vermoor.

Hy is toe na die sitkamer in die ruim huis in Loganstraat in Eduanpark om na sy ma te soek. Daarna is hy na die hoofslaapkamer, maar hy het haar ook nie daar gekry nie.

Hy het toe gesien sy jongste suster (toe 14) se kamerdeur is toe.

“Ek het die deur oopgemaak en toe sien ek my ma daar lê.”

Adv. David Sebelebele, staatsaanklaer, het die senuagtige Rolf toe gevra om die hof te vertel wat toe gebeur het.

Hy het getuig hy het die kamerdeur toegemaak en sy pa, Rolf sr., probeer bel.

Tanya Wiers (44) is in Februarie 2017 in haar huis in Polokwane vermoor.

Intussen het sy ma se selfoon elders in die huis gelui. Dit was Rolf sr. wat haar gebel het.

“Ek het geantwoord en toe sê ek vir my pa dat my ma dood is.” Rolf sr. was vir werk in Klerksdorp in Noordwes.

Rolf jr. het getuig hoe sy pa vir hom gesê het om uit die huis te gaan en dat hy die polisie sal bel.

Terwyl hy Donderdag in die getuiebank was, het hy nie een keer na Frans Maela (28), wat van die moord op sy ma aangekla word, gekyk nie.

Maela ontken skuld op aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede en verkragting.

Sebelebele het ’n fotoalbum van die misdaadtoneel by die hof ingedien. Wiers het halfnaak op die mat in haar jongste dogter se slaapkamer gelê. ’n Bebloede pienk-en-wit duvet met vlinders op het deels oor haar gelê.

Die bebloede duvet waar Tanya Wiers se halfnaak lyk in Februarie 2017 in haar huis in Polokwane gekry is. Foto: Marietie Louw-Carstens
Rolf Wiers by sy dogter, Bianca (20), en seun, Rolf jr. (18), buite die hooggeregshof in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens

Kapt. Gillion Kgare van die polisie se forensiese eenheid het getuig hoe hy bloedspatsels op die mat in die kamer waar Wiers gekry is, afgeneem het. Daar was ook bloedspatsels aan die kamermuur.

Maela was die tuinier wat by die Wiers-gesin se bure gewerk het. Hy is op die dag van die moord in hegtenis geneem nadat spore wat ooreenstem met die sole van die tekkies wat hy die dag aangehad het, gekry is. Ook is ’n plastieksak met ’n tabletrekenaar en ’n Samsung-selfoon in die buitetoilet waar Maela gewerk het, gekry. Tanya se trouring, ’n goue armband en ’n goue toonring met ’n dolfyn op is ook in die toilet gekry.

Regter Gerrit Muller het die verhoor tot Maandag uitgestel.

Die Wiers-gesin se huis in Loganstraat in Eduanpark in Polokwane. Foto: Marietie Louw-Carstens
Meer oor:  Rolf Wiers  |  Tanya Wiers  |  Polokwane  |  Moord  |  Hof  |  Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.