Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seun in hof weens moord op sy ma
Christopher Geldenhuys en Joshua Davies met ’n trui oor sy kop. Foto: Jaco Marais

’n Werknemer van die Kaapstad-metroraad se seun het Dinsdag in die landdroshof in Bellville verskyn in verband met haar dood.

Christopher Geldenhuys (20) word daarvan aangekla dat hy en sy vriend Joshua Davies (19) Sondagoggend Christopher se ma, Natasjia Geldenhuys (44), vermoor het. Die twee is later die dag in hegtenis geneem nadat Natasjia vroegoggend in haar slaapkamer in haar huis in Eerstelaan, Boston, Bellville, gekry is.

Davies, ’n lang man, het met ’n trui oor sy kop by die hof ingestap.

André, Christopher se pa en Natasjia se man, het in die hof gesit en sy trane afgevee. Hy het aan Netwerk24 gesê daar is baie mooi dinge wat hy oor sy vrou kan sê, maar dat hy nog nie reg is daarvoor nie. Hy sê die situasie is bitter moeilik, maar wou nie daaroor uitwei nie.

Albei mans het om borgtog aansoek deur hul regsverteenwoordigers gedoen.

Landdros Fezile Fani het die saak tot volgende Woensdag vir borgtoginligting uitgestel.

André Kirsten, Davies se regsverteenwoordiger, sê sy kliënt gebruik chroniese medikasie wat deur ’n verpleegsuster aan hom gegee moet word.

Christopher Geldenhuys en Joshua Davies in die hof. Foto: Jaco Marais

Hy het dus gevra dat Davies in die mediese afdeling van die Goodwood-gevangenis aangehou word. Hy wou nie sê wat Davies makeer nie.

Cornelius Smit, Christopher se regsverteenwoordiger, sê sy kliënt het ’n soortgelyke toestand en het gevra dat Christopher ook in die mediese afdeling gehou word.

Fani het gesê hy kan nie ’n bevel hieroor uitreik nie, maar dit wel voorstel, wat hy toe ook gedoen het.

André en Christopher het mekaar gegroet voordat Christopher terug is na die selle.

Voorheen is berig Christopher het Sondagoggend aan die polisie gesê hy het by Davies in Vierdelaan gaan kuier en sy ma se lyk omstreeks 06:00 ontdek.

Sy jonger broer was tuis, maar André was uitstedig ten tyde van die moord.

Natasjia het vir langer as 20 jaar vir die Kaapstad-metro gewerk, tot onlangs in die afdeling vir beplanning en bouontwikkeling.

Christopher en Davies verskyn weer op 9 Desember in die hof.

Natasjia Geldenhuys se lyk is Sondag in die slaapkamer van haar huis in Boston, Bellville, gevind. Foto: Facebook

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.