Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seun sal teen pa in Mooinooi-saak getuig

Die seun van Koos Strydom, vermeende “baasbrein” van die moord op die Mooinooi-egpaar, Joey en Anisha van Niekerk, is nou ’n staatsgetuie teen hom.

Dit kom nadat alle aanklagte vroeër teen Vincent Strydom, sy gewese meisie, Maroeca Opperman, en Moses Rakubu teruggetrek is.

Hulle is sedertdien onder getuiebeskerming geplaas, het sers. Tumi Menyatso, polisiewoordvoerder, Dinsdag gesê en bevestig dat dié drie staatsgetuies gaan wees.

Koos Strydom, die man wat glo Joey en Anisha van Niekerk laat vermoor het om sy hande op hul hoewe te kry, stap geboei saam met van sy medebeskuldigdes die hofsel in. Foto: Hant Otto

Hy het bygevoeg dat die DNS- en bloedmonsters van Strydom (52), sy vrou, Mercia (22), twee Mosambiekse broers (onderskeidelik 25 en 18 jaar oud) en werknemers van Strydom, asook Alex Modau (36) met die misdaadtoneel verbind word.

“Die polisie-ondersoek is afgehandel. Ons wag nou vir ’n hooggeregshofdatum,” het hy buite die landdroshof in Brits gesê waar die vyf beskuldigdes verskyn het.

In die hof het Strydom se vrou vir die eerste keer sedert hul inhegtenisneming in Desember en Januarie ’n ander regsverteenwoordiger as haar man gehad. Dit is gewoonlik ’n aanduiding van botsende belange tussen partye.

Christine Molautsi, aanklaer, het Dinsdag gevra dat die saak tot September uitgestel word, omdat ’n verhoordatum nog nie bepaal is nie.

Adrian Nell en Heinrich Moldenhauer, onderskeidelik Strydom en sy vrou se regsverteenwoordigers, het aangedui dat hulle beswaar sal maak teen nog ’n uitstel as ’n hofdatum nie teen die beskuldigdes se volgende verskyning vasgestel is nie.

“Die direkteur van openbare vervolgings het byna twee maande om ’n datum te gee, terwyl my kliënt reeds byna ’n jaar in aanhouding is. Dit neig na onnodige vertragings,” het Nell gesê.

Molautsi het hierop gereageer: “Dit is nie asof mnr. Nell met skoon hande voor die hof staan wat vertragings betref nie. Hy is ’n moontlike getuie en die polisie het hom gevra vir ’n verklaring, wat hy (Nell) nog nie afgelê het nie”.

Nell het geantwoord dat die aanklaer se optrede hom “effens verbaas”.

Koos Strydom, die vermeende baasbrein, in gesprek met sy prokureur, Adrian Nell, nadat hy en sy medebeskuldigdes geboei in die landdroshof op Brits aangekom het. Foto: Hanti Otto

“Dan lyk dit asof die getuielys nie korrek is nie, want my naam is nie daarop nie. So ook nie die name van die drie persone teen wie die klagtes vroeër teruggetrek is nie,” het hy teruggekap.

Landdros Reagen Rosenberg het die argumente kortgeknip en die saak tot September uitgestel.

Die vyf beskuldigdes sal op twee aanklagte van moord, roof met verswarende omstandighede, twee aanklagte van ontvoering, drie van diefstal en aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie teregstaan.

Die Mosambiekse broers sal ook van verkragting aangekla word en mag ingevolge wetgewing eers geïdentifiseer word nadat hulle gepleit het.

Luidens die akte van beskuldiging wou Strydom die Van Niekerks se hoewe koop en het hy ’n kontrak laat opstel. Die hoewe was in Anisha se naam.

Mercia Strydom, Alex Modau en Koos Strydom saam met die twee Mosambiekse broers, wat Joey en Anisha van Niekerk na bewering verkrag het, staan in die beskuldigdebank.Foto: Hanti Otto

Die staat voer aan dit was Strydom se oogmerk dat Anisha én Joey doodgemaak word. “Vir dié doel het hy die ander beskuldigdes om bystand genader,” lui die akte.

Die oorledenes is op 10 Desember 2017 na Strydom se plaas. Hier is Anisha na bewering gedwing om die koopkontrak te teken.

Familielede van Joey en Anisha van Niekerk wag buite die hof vir die vyf beskuldigdes se hofverskyning.Foto: Hanti Otto

Die twee vroue is voor hul dood na bewering herhaaldelik “wreedaardig aangerand”, verkrag, gedwing om hul bankkaarte se geheime kodes te verskaf en van hul voertuig beroof.

Hul lyke is ná die tyd verbrand. Net Anisha se oorskot is gevind, maar die oorsaak van haar dood kon nie bepaal word nie. Joey s’n is nooit gevind nie.

* Strydom en die oudste Mosambiekse broer verskyn ook in September in die hooggeregshof op Mogwase op nog aanklagte van moord en roof met verswarende omstandighede. Dit hou verband met ’n voorval op Rustenburg in 2014, waar Strydom na bewering ook die slagoffer se plaas wou koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.