Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seun se skietdood: Staat gaan borgtog teenstaan

Die staat gaan borgtog teenstaan in die saak teen twee polisielede wat van die moord op die downsindroom-lyer Nathaniel Julies (16) aangekla word.

So het Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, Maandag buite die landdroshof in Protea, Soweto, gesê waar die polisielede vlugtig in verband met Nathaniel se skietdood verskyn het.

Twee polisielede het in verband met die skietdood van Nathaniel Julies in die landdroshof in Protea, Soweto, verskyn. Foto: Brümilda Swartbooi

Sers. Simon Scorpion Ndyalvane en konst. Caylene Whiteboy word deur moordklagte, die onwettige besit van patrone, regsverydeling en die afvuur van ’n vuurwapen in die openbaar in die gesig gestaar.

Hulle is Vrydag in hegtenis geneem nadat Nathaniel Woensdagaand naby sy huis in Eldoradopark in die suide van Johannesburg doodgeskiet is.

Ndyalvane het Maandag sy kop met ’n kledingstuk bedek en Whiteboy het haar kop met haar jas se kappie toegemaak sodat hul gesigte nie gesien kon word nie. Hulle bly in aanhouding en verskyn weer op 10 September in die hof.

Dwain Ponsonby, gemeenskapsleier van Eldoradopark, en Peter Rafferty, raadslid van Eldoradopark, het T-hemde aangehad en maskers gedra met Nathaniel se gesig daarop. Foto: Brümilda Swartbooi

Mjonondwane het ná die hofverskyning buite die hof gesê die saak is uitgestel sodat Whiteboy ’n regsverteenwoordiger kan aanstel en vir ’n moontlike borgtogaansoek. Mjonondwane sê egter die staat sal die aansoek teenstaan.

Cyril Brown, Nathaniel se oom, het gesê dis ’n emosionele dag vir die familie, veral om die beskuldigdes die eerste keer in die hof te sien. Brown sê hy verstaan nie wat die motief agter die skietery was nie, want Nathaniel was nie ’n gewone seun nie.

“Hy het na die polisievoertuig toe gehardloop, want dit het sy aandag getrek. Ons moet in ag neem dat hy nie verstaan het nie, maar om dit aan iemand met downsindroom te doen is onaanvaarbaar. Dis hartseer.”

Inwoners pleit dat geregtigheid sal geskied. Foto: Brümilda Swartbooi

Larrie Varrie, wat Nathaniel se familie met berading bystaan, sê Nathaniel is wreed dood.

“Dis ondenkbaar dat ’n kind met downsindroom wat almal geken het so moes sterf.”

Nathaniel word Saterdag op sy ma, Bridget Harris, se verjaardag begrawe.

Voordat hulle in die hof verskyn het, was daar ’n rusie tussen EFF-lede en die polisie. Die polisie wou glo nie vir Kenny Motsamai, EFF-LP, in die hof toelaat nie. Die polisie het toegang tot die hof streng gereguleer, maar het Motsamai later toegelaat.

Inwoners het buite die hof betoog. Foto: Brümilda Swartbooi
Meer oor:  Nathaniel Julies  |  Eldorado Park  |  Borgtog  |  Polisiebeamptes  |  Skietdood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.