Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seun sê vonnis vir moord op ma is te lig

Die seun van ’n vermoorde bejaarde vrou is teleurgesteld dat haar moordenaars nie tot lewenslange gevangenisstraf gevonnis is nie.

Eugene Smith, wie se ma Anne Smith (86) in 2018 vermoor is, was Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth, waar Junior Lungisa (23) en Sizwe Jika (27) elk tot effektief 20 jaar tronkstraf opgelê is.

“Ek dink die vonnis is te lig. Hulle moes eintlik lewenslank gekry het, sonder enige afslag,” het Smith buite die hof gesê.

Die twee moordenaars is ook aan huisbraak met die doel om te steel en roof met verswarende omstandighede skuldig bevind.

Sizwe Jika, wat onder meer vir die moord op Anne Smith skuldig bevind is, wys Woensdagoggend kort voor vonnisoplegging ’n handgebaar in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Anne is op 28 Mei 2018 herhaaldelik met ’n hamer oor die kop geslaan nadat sy die inbrekers in die hoofhuis op ’n erf in die woonbuurt Kammapark betrap het. Sy het destyds in ’n woonstel op die erf gewoon.

Junior Lungisa, wat ook aan die moord op Anne Smith skuldig bevind is, het Woensdagoggend stil gesit en wag in die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Port Elizabeth. Foto: Lulama Zenzile

Regter Elna Revelas het die getuienis van medici aanvaar dat die kopbeserings wat sy opgedoen het, komplikasies veroorsaak het wat uiteindelik tot haar dood op 27 Junie 2018 gelei het.

Smith het gesê dit was vir hom moeilik om die beskuldigdes in die hof te sien.

“Daar gaan baie gedagtes deur jou kop.

“Dit voel nou bietjie of ’n las gelig is, maar (die moord) sal maar altyd daar wees,” het hy gesê.

Anne Smith Foto: Argief

Revelas het met vonnisoplegging gesê uit die getuienis voor die hof blyk dit dat die twee beskuldigdes se hoofdoel met die huisbraak was om hul dwelmverslawing te finansier.

Sy het gesê ondanks die droewige maatskaplik-ekonomiese omstandighede van die misdadigers is daar steeds baie ander arm mense uit ’n soortgelyke agtergrond wat verkies om nie tot misdaad oor te gaan nie.

“Na my mening is dié soort misdaad waarna (in die saak) verwys word, van die ernstigste en dit verdien die swaarste straf.”

Revelas het gesê sy meen daar is tog dwingende en wesenlike omstandighede in dié saak wat ’n afwyking van die minimum voorgeskrewe vonnis van lewenslange tronkstraf vir moord toelaat.

Volgens haar het Jika en Lungisa sonder wapens by die huis opgedaag en geglo dat niemand tuis was nie.

Die beskuldigdes het in die verhoor getuig dat hulle voor die inbraak eers by die huis geklop het om seker te maak dat niemand tuis is nie.

“Dit was nie ’n gewone misdaad waar rowers met vuurwapens by ’n huis ingaan en gereed is om enige weerstand te oorkom nie,” het Revelas gesê.

Lungisa was ten tyde van die inbraak onder die invloed van dwelms.

Revelas het gesê omdat hy nog relatief jonk is, is daar hoop dat hy deur middel van ’n program in die gevangenis sy dwelmverslawing te kan bowe kom.

Volgens haar meen sy dat hoewel Jika in die verhoor getuig het dat hy al by minstens 100 huise ingebreek het, meen sy dat dit ’n oordrewe stelling was. Sy het ook in aanmerking geneem dat daar geen bewyse is dat enigiemand in die ses veroordelings vir huisbraak teen Jika beseer is nie.

In twee onverwante en afsonderlike sake is Jika tans die enigste verdagte in verband met twee ander moorde in Port Elizabeth. Kelly Bain (26) en Anne Ferreira (83) was albei ook alleen tuis toe Jika na bewering by hul huise ingebreek het.

Revelas het gesê sy neem in ag dat Jika in ’n mate verantwoordelikheid aanvaar het deur te erken dat hy by Anne se huis ingebreek het, al het hy die skuld vir die moord op Lungisa gepak.

Tog het sy bygevoeg dat Jika in die lig van sy lang huisbraak-geskiedenis swaarder op die aanklag van huisbraak gevonnis moet word.

* Lungisa is op die aanklag van huisbraak met die doel om te steel tot drie jaar tronkstraf gevonnis, terwyl Jika op dieselfde klag tot tien jaar gevangenisstraf gevonnis is.

* Albei is die minimum voorgeskrewe vonnis van 15 jaar vir roof met verswarende omstandighede opgelê.

* Op die aanklag van moord is albei gevonnis tot 25 jaar gevangenisstraf, waarvan vyf jaar opgeskort is.

* Die vonnisse sal samelopend uitgedien word.

* Jika se vonnis sal ook samelopend met sy huidige 23 jaar tronkstraf vir sy vorige veroordelings uitgedien word.

Meer oor:  Eugene Smith  |  Anne Smith  |  Port Elizabeth  |  Moordsaak  |  Vonnis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.