Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Seun vertel hoekom hy sy ma doodgeslaan het

’n Jong man van Vermaaklikheid naby Riversdal het erken dat hy sy ma vermoor het omdat hy “jare lank deur haar mishandel is tot op ’n punt dat hy dit nie meer kon hanteer nie”.

Francina van der Merwe. Foto: Verskaf

Pieter le Roux het Woensdag in die rondgaande hof op Swellendam erken dat hy sy ma, Francina van der Merwe, op 27 Julie 2016 vermoor het.

Hy staan tereg op aanklagte van poging tot moord en moord en het op albei skuld beken. Die hof sal hom volgende week vonnis.

Luidens sy pleitverduideliking het Le Roux en sy ma altyd ’n baie stormagtige verhouding gehad.

Sy het hom ’n paar keer uit die skool gehaal, waarna die skool geweier het om hom weer toe te laat.

“Die verhouding tussen my en die oorledene was altyd uiters gespanne en gekenmerk deur ’n konstante bakleiery, geskel en fisieke geweld teenoor my,” lui sy verduideliking.

Sy het veral met Le Roux gebaklei op ’n Saterdagaand wanneer sy gedrink het. Sy het hom herhaaldelik uit die huis gesluit en dan het hy in ’n buitetoilet geslaap.

Le Roux was in dié stadium in ’n verhouding met ’n bruin meisie, iets wat die oorledene nie goedgekeur het nie.

Sy het hom herhaaldelik uitgeskel en met hom daaroor gebaklei.

Luidens die pleitverduideliking wou die oorledene ook nooit hê dat Le Roux mag werk nie. Hy moes huistake afhandel.

“Ek het vroeg in Julie 2016 die oorledene met miergif probeer vergiftig. Ek het dit in haar koffie gegooi, maar sy het dit nie opgedrink nie.”

Daar was bloed teen die kaste en ek het dit afgewas.
Pieter le Roux

Drie weke later het hy een aand by die huis gekom nadat hy by sy meisie gekuier het. Volgens Le Roux het sy ma weer met hom begin baklei. Hy het gaan televisie kyk en sy ma het gaan slaap.

“Ek het gesien hoe sy lê en slaap en het toe na buite gegaan en ’n graaf gaan haal. Ek was nie onder die invloed van enige dwelms of drank nie en was by my volle positiewe,” lui sy verduideliking.

Le Roux het toe met die graaf by die huis ingegaan. “Toe ek langs haar staan met die graaf, wou ek myself eers terughou, maar ek het besluit om voort te gaan en het die oorledene oor die kop geslaan met die graaf terwyl sy gelê en slaap het.”

Sy het wakker geword en gevra: “Wat maak jy?”

“Ek het haar toe verskeie kere met die graaf oor die kop geslaan. Ek het toe gesien die graaf werk nie en het ’n koevoet gekry.

“Ek het die oorledene toe verskeie kere met die koevoet agter op haar nek gesteek terwyl sy op haar maag gelê het.”

Nadat hy sy ma doodgemaak het, het hy haar lyk aan ’n ankertou agteraan hul Fiat Uno vasgemaak en haar in die bosse ingesleep. Volgens hom was sy te swaar om in die motor te laai.

Hy het daarna die oorledene se bebloede klere, die graaf, koevoet en ’n stuk mat probeer verbrand.

“Daar was bloed teen die kaste en ek het dit afgewas,” het hy gesê.

Die polisie het hierna by die huis opgedaag en Le Roux het sy ma se lyk aan hulle gaan uitwys.

“Ek is baie kwaad vir myself en het baie berou vir wat ek gedoen het en ek weet dit was verkeerd.”

Le Roux sal volgende week gevonnis word.

Meer oor:  Graaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.