Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Ruan wou geld hê

Net meer as twee maande voordat ’n “bedorwe brokkie” en dwelmslaaf van Pretoria glo amper sy ouers met ’n mes vermoor het, het hy en ’n vriend probeer om ’n kwartmiljoen rand by sy pa te bedel vir ’n rehabilitasiesentrum.

Ruan van Heerden (18) in die hof. Foto: Deaan Vivier

En toe Barnie van Heerden nie wou ingee aan sy seun, Ruan, se buitensporige versoeke nie, het die vriend glo vir Barnie aangerand.

Barnie en sy vrou, Magda, is in die vroeë oggendure van 9 Januarie in hul huis in Centurion oorval. Barnie is met ’n gholfstok geslaan en met ’n mes gesteek en die 49-jarige Magda is verskeie kere gesteek.

Ruan, hul enigste kind, asook Colson William Phelps (22) en ’n 17-jarige vriendin, het die afgelope week afsonderlik in die hof verskyn op aanklagte van poging tot moord.

Volgens ’n familievriend, wat nie geïdentifiseer wil word nie, is die aanval vir die egpaar baie moeilik om te verwerk. “Dit is klaar moeilik as ’n vreemdeling oor jou muur spring en jou aanval, maar dit is iets heeltemal anders as dit een van jou eie mense is. Ek kry hulle bitter jammer. Dwelms is ’n lelike ding.”

‘As Rob Green nie gisteraand my pa gedonder het nie, het ek.’

Familievriende sê Barnie en Magda baklei al lank teen die vernietigende uitwerking van dwelms op hul seun – wat minstens twee bronne as ’n “bedorwe brokkie” beskryf.

“Dit is baie hartseer dat hulle nou in hierdie situasie is. Hulle is goeie ouers wat hul seun op elke moontlike manier ondersteun het. Hulle verdien nie wat met hulle gebeur het nie.”

Rapport verstaan dat Ruan tydens sy behandeling by die Nieuwefontein Empowerment Centre, ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmslawe buite Hanover in die Noord-Kaap, vriende gemaak het met Robert Green, ’n bestuurder daar.

Volgens Rapport se inligting het Green by dié sentrum bedank nadat een van die pasiënte beweer het hy is seksueel aangerand en met net ’n goiingsak vir warmte deur ’n snerpende koue nag aan ’n muur in ’n kamer met oop vensters vasgeketting is. Ruan was volgens ’n bron glo teenwoordig tydens die nag se gebeure. Die sentrum het sy deure kort daarna gesluit.

Green en Ruan het daarna met Ruan se pa ontmoet om by hom geld te bedel omdat Green sy eie rehabilitasiesentrum wou begin.

Colson Phelps (22): Die derde verdagte. Foto: Facebook

Stiaan Bekker, die familiewoordvoerder en Barnie se sakevennoot by Veritas Eksekuteurs­kamers in Centurion, het die gebeure bevestig.

Hy sê Barnie het Ruan en Green einde Oktober op ’n gasteplaas naby De Aar ontmoet. Green het hom vertel van sy planne om ’n rehabilitasiesentrum oop te maak waarvoor hy ’n kwartmiljoen rand nodig gehad het. Green het egter geen ordentlike sakeplan gehad nie en dit het tot ’n rusie gelei.

“Ruan was nooit betrokke by die gesprek nie en sou ook nooit enige belang by die nuwe sentrum gehad het nie,” sê Bekker.

Nadat Barnie geweier het om vir Green geld te gee, het Green glo aggressief geraak en Barnie het in sy motor geklim om te ry. Green het hom toe na bewering aangeval. Barnie het hom glo met die motordeur weggestamp en weggehardloop.

’n Ander bron sê Green en Ruan het saam “vir ure lank probeer om Barnie te oortuig om R250 000 vir Green te gee. “Ruan kan nie nee vir ’n antwoord aanvaar nie. Hy móét kry wat hy wil hê, anders is dit die hele wêreld om hom se skuld. Hy het sy pa probeer manipuleer en gesê hy is waar hy is weens sy pa.”

Volgens dié bron het Barnie in ’n stadium vir Green gesê as hy besluit om vir hom die geld te gee, “soek hy niks geld terug nie, net sy seun”.

Volgens die bron het Ruan blykbaar die volgende oggend gesê: “As Rob Green nie gisteraand my pa gedonder het nie, het ek.”

Volgens Bekker is Ruan en Green ’n paar dae ná die gasteplaas-voorval op ’n bus Kaap toe.

Bekker beweer Green het die Van Heerden-egpaar toe begin verpes vir geld om vir Ruan se “versorging” te betaal. Barnie het toe vir Green R20 000 gegee.

Ruan en Green het tot aan die einde van Desember in die Kaap gebly. Ruan wou volgens Bekker huis toe kom en Barnie het vir hom ’n buskaartjie gekoop. Hy het op Oujaarsdag by sy ouers in Pretoria aangekom.

Nog ’n bron sê die dag toe Ruan tuisgekom het, ná meer as ’n jaar van rehabilitasie, was hy reg om te kuier. Hy het glo sy WhatsApp-status dadelik verander na “I’m back boys, let’s party”. Minder as twee weke later is sy ouers aangeval.

Green het die afgelope week nie Rapport se oproepe beantwoord of op Whats­App-boodskappe, wat hy gelees het, gereageer nie.

Verlede jaar het hy in reaksie op sy beweerde aanranding van ’n pasiënt by Nieuwefontein gesê as die polisie die saak ondersoek, “kan hy nie nou kommentaar lewer nie”.

Meer oor:  Ruan Van Heerden  |  Dwelms  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.