Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sharma, Guptas se lewe van weelde sonder grense
Die luukse huis in Sandton wat aan Iqbal Sharma behoort. Die huis is ook op die TV-program ‘Top Billing’ vertoon. Foto: Skermgreep/Top Billing

Antieke meubels uit Indië, waarvan sommige stukke ouer as 400 jaar is, en ’n kunswerk van Kafung, ’n Indiese kunstenaar wie se werke ook aan ’n oud-president van Amerika geskenk is, is van die bates wat vandeesweek deur regter Soma Naidoo in die hooggeregshof in Bloemfontein bevries is.

Van die eiendom ter sprake van ’n Johannesburgse sakeman en lede van die omstrede Gupta-familie, is ook luukse huise (een is op die TV-program Top Billing vertoon), olifantbeelde van graniet en peperduur ingevoerde Persiese matte.

Dié voorlopige bevriesingsbevel volg nadat die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se ondersoekdirektoraat Woensdag ’n ex parte-aansoek gebring het dat die bates van Iqbal Sharma, sy maatskappy Nulane Investments 204, en Islandsite Investments 180, wat behoort aan Atul en Rajesh Gupta en hul vroue, onderskeidelik Chetali en Arti, bevries word.

Dié eiendom en bates in Kaapstad en Johannesburg is na raming net meer as R47 miljoen werd.

Die vooraansig van die luukse huis van Iqbal Sharma. Een van die olifantbeelde van graniet kan op die foto gesien word. Foto: Skermgreep/Top Billing

Luidens die onbeperkte bevel wat Woensdag toegestaan is, mag die staat ook eiendomme en bates van Sharma, die Guptas, hul vroue en hul maatskappye in die buiteland bevries.

Die staat voer aan sowat R522 miljoen, opbrengste uit projekte soos die bedrieglike Estina-suiwelprojek en ander projekte, het deur die bankrekening van Islandsite Investments 180 en ander buitelandse bankrekenings gevloei.

Luidens die hofstukke besit Sharma, ’n sakeman en voormalige direksielid van Transnet, ’n huis in Morningside, Sandton, met ’n koopprys van meer as R8 miljoen, maar dit het ’n verband van R12 miljoen.

Dit is die einste huis met twee Persiese matte van 14 m wat uit Kasjmier in Indië ingevoer is, olifantbeelde wat uit ’n enkele granietblok gekerf is, aan albei kante van die voordeur, antieke koperhandvatsels aan elke deur in die huis en verskeie antieke meubels uit Indië, waarvan sommige stukke ouer as 400 jaar is. Dít is die huis wat op Top Billing gewys is. 

Onder Sharma se los bates is ook ’n kunswerk van Kafung, ’n Indiese kunstenaar van wie se werke aan oudpres. Barack Obama van Amerika geskenk is.

Daarbenewens besit hy ’n huis van sowat R1,3 miljoen in Sherwood Gate en ’n BMW 325ci, luukse ontwerpersklere en juweliersware.

Een van die vertrekke van Iqbal Sharma se huis. Foto: Skermgreep/Top Billing

Luidens ’n verklaring deur Thesele Rankuotsana, ’n forensiese ondersoeker by die NVG se ondersoekende direktoraat, kan hy nie die presiese waarde van Sharma se los bates bepaal nie.

“Ek veronderstel dit kan enigiets tussen honderdduisende rande en etlike miljoene rande beloop. Vir die doel van die verklaring neem ek aan dat die waarde van die huishoudelike bates minstens R500 000 beloop.”

Islandsite Investments 180, wat onder sakeredding is, besit ’n huis in Constantia met ’n beraamde waarde van meer as R21 miljoen en ’n huis in Saxonworld van meer as R12,1 miljoen.

Nulane besit geen eiendom of bates nie.

Die luukse huis in Sandton wat aan Iqbal Sharma behoort. Foto: Skermgreep/Top Billing

Sharma, sy maatskappy, Limakatso Moorosi, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement en deesdae uitvoerende hoof van Bloemwater, en Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die landboudepartement en nou adjunk-direkteur-generaal van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die Vrystaat, en Peter Thabethe, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement, het Donderdag op aanklagte van bedrog en geldwassery in die streekhof in Bloemfontein verskyn.

Die NVG het Donderdag ook bekend gemaak dat hy Interpol gevra het om te help om verskeie lede van die Gupta-familie in die buiteland in hegtenis te neem. Hulle moet saam met die Vrystaatse amptenare en Sharma teregstaan.

Lasbriewe is reeds deur die NVG uitgereik.

Hul verskyning spruit uit ’n volhoubaarheidstudie vir moontlike projekte van die landboudepartement in 2011 waarvoor Sharma en Nulane sowat R24,9 miljoen betaal is. Volgens die staat was dit ’n rookskerm om die bedrieglike Estina-suiwelprojek by Vrede te begin, waaruit sowat R288 miljoen gevloei het.


Meer oor:  Gupta-Uitlewering  |  Guptas  |  Iqbal Sharma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.