Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sharma se borgaansoek gaan later voort
Thabethe
Peter Thabethe Maandagoggend tydens sy borgtogaansoek in die streekhof in Bloemfontein. Foto: Kaydene Jordaan

16:25

Iqbal Sharma, sakeman van Johannesburg, ontken in ’n beëdigde verklaring wat hy ter ondersteuning van sy borgtogaansoek by die hof ingedien het, enige verbintenis met die Gupta-familie.

Daarmee saam voer hy aan die laaste keer dat hy in die geselskap van die Guptas was, was in 2014 toe hy hulle “toevallig” in ’n hotel in Dubai raakgeloop het. Hy en sy vrou, Tarine, ’n model en aktrise, was daar met vakansie.

Sharma se laaste kontak met Salim Essa was in 2017 toe hy hom ook in Dubai in ’n hotel raakgeloop het. En dié kontak het net twee minute geduur.

Hy voer ook aan dat daar geen meriete is in die uitsprake van die staat oor sy verhouding of verbintenis met die Guptas nie.

Sharma voer verder aan dat hy ’n wetsgehoorsame burger is, wat sedert 2018 van die ondersoek teen hom weet.

“As ek wou vlug, sou ek dit al teen dié tyd gedoen het. Sedert 2018 het ek dikwels die buiteland besoek, maar elke keer teruggekeer.”

Sharma sê hy beskou Suid-Afrika as sy permanente tuiste en as hy in aanhouding bly, belemmer dit sy kans op ’n regverdige verhoor. Hy sal nie met staatsgetuies inmeng nie.

Sharma se borgtogaansoek is tot Dinsdag uitgestel om die staat die geleentheid te bied om inligting in sy verklaring te verifieer.

Hy staan tereg saam met sy maatskappy, Nulane Investment 204 Pty Ltd, Peter Thabethe, voormalige hoof van die departement van landbou in die Vrystaat, Limakatso Moorosi, uitvoerende hoof van Bloemwater (en ook ’n voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement), en Seipati Dlamini, adjunkdirekteur-generaal van die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (en ’n voormalige finansiële hoof van die landboudepartement), op aanklagte van bedrog, geldwassery en die oortreding van die Wet op Openbare Finansies.

Moorosi en Dlamini is Donderdag op borgtog van R10 000 elk vrygelaat, terwyl Thabethe Maandagoggend op borgtog van R10 000 vrygelaat is. Hulle word saam met 13 ander, insluitend die Gupta-broers en hul vroue, aangekla.

Die uitleweringsproses om Atul en Rajesh Gupta, hul vroue, Arti en Chetali, en ander Indiese sakelui aan Suid-Afrika uit te lewer om saam met Sharma en ander tereg te staan, het reeds begin.

Die aanklagte teen die 17 beskuldigdes spruit uit ’n volhoubaarheidstudie waarvoor R24,9 miljoen aan Nulane Investment 204 Pty Ltd betaal is om toekomstige projekte te identifiseer wat die landboudepartement kan aanpak.

Die volhoubaarheidstudie het volgens die staat die omstrede Estina-suiwelprojek gebaar.


14:55

Iqbal Sharma, sakeman van Johannesburg en Gupta-bondgenoot, se borgtogaansoek is  in die streekhof tot later Maandagmiddag uitgestel.

Die uitstel volg nadat adv. Stefanus Coetzee SC, namens Sharma, ’n lywige dokument, wat nie in die hofrekord gelees is, ingedien het.

Peter Serunye, namens die staat, sal na verwagting eers later Maandagmiddag op die verklaring wat ter ondersteuning vir Sharma se aansoek om borgtog ingedien is, antwoord.

Serunye het betoog dat hulle kans gegun moet word om die verklaring deur te gaan en ook buitelandse bankrekeninge te verifieer.


11:53

Streeklanddros Estelle de Lange het borgtog van R10 000 aan Peter Thabethe, voormalige hoof van die landboudepartement en deesdae 'n boer in die Ermelo-distrik, toegestaan.

Volgens De Lange is dit in die belang van geregtigheid dat Thabethe op borgtog vrygelaat word.

Thabethe is ook bereid om sy paspoort in te handig, soos wat sy borgtogvoorwaardes vereis.

Hy sal weer op 5 Julie in die hof verskyn.

Iqbal Sharma se borgtogaansoek sal om 14:00 aangehoor word.


10:40 Die sakeman Iqbal Sharma, ’n Gupta-meeloper, en Peter Thabethe, ’n voormalige departementshoof van die Vrystaatse departement van landbou, doen tans in die streekhof in Bloemfontein om borgtog aansoek.

Hulle is sedert verlede Woensdag agter tralies nadat hulle en twee ander provinsiale amptenare in verband met bedrog, geldwassery en die oortreding van die Wet op Openbare Finansiële Bestuur in hegtenis geneem is.

Dr. Limakatso Moorosi, hoof uitvoerende beampte van Bloemwater, en Seipati Dlamini, voormalige finansiële beampte en tans adjunk-direkteur-generaal van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die provinsie, het reeds verlede Donderdag om borgtog aansoek gedoen. Hulle is op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Al vier het vanoggend saam in die hof verskyn, waarna die saak tot 5 Julie uitgestel is. Moorosi en Dlamini se borgtog is tot op dié datum verleng.

Die hof het teen 10:30 reeds Thabethe se borgtogaansoek begin aanhoor.

Sharma se regspan wag nog op die staat se antwoord op die beëdigde verklaring wat Sharma as deel van sy borgtogaansoek gaan indien. Sy aansoek word dus later aangehoor.

iqbal sharma
Die vier beskuldigdes het weer Maandagoggend saam in die streekhof in Bloemfontein verskyn. Van links is Peter Thabethe, dr. Limakatso Maroosi, Seipati Dlamini en Iqbal Sharma. Foto: Kaydene Davids

Die aanklagte spruit uit ’n volhoubaarheidstudie waarvoor R24,9 miljoen betaal is aan Sharma se maatskappy, Nulane Investment 204 Pty Ltd, om toekomstige projekte vir die departement van landbou te identifiseer. Die studie het volgens die staat die bedrieglike Estina-suiwelprojek gebaar.

Daar is in totaal 17 name op die klagstaat, wat die Gupta-broers (Atul en Rajesh “Tony”) en hul vroue (onderskeidelik Chetali en Arti) insluit. Hulle woon in Dubai.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Donderdag met die vier se hofverskyning gesê dat Interpol gevra is om te help om verskeie lede van die Gupta-familie in die buiteland in hegtenis te neem sodat hulle saam met die Vrystaatse amptenare en Sharma tereg kan staan.

Die proses is reeds begin om die Gupta-broers, hul vroue en nog ’n Indiese sakeman aan Suid-Afrika uit te lewer.

Die NVG het reeds lasbriewe uitgereik.

Regter Soma Naidoo het verlede week in die hooggeregshof in Bloemfontein ná ’n aansoek deur die NVG se ondersoekdirektoraat talle bates bevries.

Iqbal Sharma verlede week met sy eerste verskyning in die streekhof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Dit sluit die bates in van Sharma en sy maatskappy, asook die bates van Islandsite Investments 180, wat aan Atul en Rajesh Gupta en hul vroue behoort.

Dié eiendom en bates in Kaapstad en Johannesburg is na raming net meer as R47 miljoen werd.

Luidens die onbeperkte bevel wat Woensdag toegestaan is, mag die staat ook eiendomme en bates van Sharma, die Guptas, hul vroue en hul maatskappye in die buiteland bevries.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.