Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
‘Sharnelle ook uit mý lewe geruk,’ sê Stella-verdagte se ma
Sharnelle HoughFoto: Verskaf

“Ek was bitter lief vir Lallie, sy is ook uit mý lewe geruk en haar dood laat ’n ontsaglike leemte by my.”

Mercia Bylsma het Maandagmiddag haar stryd so verwoord oor die feit dat haar seun, Xander Bylsma (19), van die moord op Sharnelle Hough (17) aangekla word.

Sharnelle (Lallie), Xander se eksmeisie, en Marna Engelbrecht (16), sy kleinniggie, is einde Mei vanjaar in hul koshuis by die Hoërskool Stella in Noordwes vermoor. Die boesemvriendinne, wat albei in gr. 11 in dié skool was, is vermoedelik verwurg.

Xander verskyn Dinsdag weer weens die moorde in die landdroshof in Vryburg. Mercia sê sy sal by die hof wees om haar seun te sien. Sy het hom laas met sy vorige hofverskyning sowat drie weke gelede gesien.

“Niemand verstaan dat Lallie ’n ruk lank deel van my lewe was nie,” sê Mercia oor die tyd dat Xander en Sharnelle uitgegaan het. Hulle het sowat ’n maand voor die moorde uitgemaak.

Xander Bylsma was in 2017 in matriek aan die Hoërskool Stella.Foto: Verskaf

“Lallie was soos ’n dogter vir my. Ek wil uitreik na haar familie, maar weet nie wat om te sê nie. Verlede week was verskriklik erg, ek het die heeltyd aan haar gedink. Wanneer ek verby Stella ry, dink ek aan hoe ek haar daar gaan oplaai het. Sy het Xander so gelukkig gemaak.

“Nou het ek haar verloor, en in ’n mate ook vir Xander. Dit wat ons gehad het (voor die meisies se dood), is weg. Xander, my kind vir wie ek lief is, is ook van my weggevat.”

Mercia sê die verlies aan ’n sorgvrye lewe in die klein plattelandse gemeenskap is ook groot. “Oral waar ’n mens gaan, staar die mense na jou. Party maak bitsige aanmerkings. Dit maak seer. Almal wil net die beste vir hul kinders hê. Die Here is die enigste een wat ’n oordeel kan fel. Hy gee my krag. Ek weet nie hoe kom ek deur elke dag nie.”

Mercia sê sy het Marna nie goed geken nie.

Die saak teen Xander sal na verwagting Dinsdag net uitgestel word omdat hy nog wag op ’n bed in die Sterkfontein- psigiatriese hospitaal in Krugersdorp, Gauteng.

Xander is met sy vorige hofverskyning vir 30 dae sielkundige waarneming na dié hospitaal verwys sodat kundiges daar kan bepaal of hy moontlik weens geestelike ongesteldheid nie aanspreeklik gehou kan word vir die beweerde misdrywe wat hy gepleeg het nie.

Xander Bylsma kom tydens ’n vorige verskyning by die landdroshof in Vryburg aan in die klere wat hy gedra het toe hy en Sharnelle Hough in 2017 na die Hoërskool Stella se matriekafskeid is. Foto: Simon Sonnekus

Die moorde op die meisies het skokgolwe deur die plattelandse gemeenskap gestuur. Die polisie het kort daarna bekend gemaak dat Xander sekere bekentenisse gemaak het toe hy ure ná die treurspel in hegtenis geneem is. Die inhoud daarvan is nog nie bekend nie, maar dit sal, soos die uitslag van die nadoodse ondersoek ook, moontlik later as getuienis in die hof aangebied word.

Adv. Dalton Tshinyani, die staatsaanklaer, het vroeër gesê die akte van beskuldiging is gereed, maar dat die stel van die aanklagte aan Xander uitgestel moes word omdat hy nou eers vir sielkundige waarneming moet gaan.

Xander het nog nie om borgtog aansoek gedoen nie en word in die Rooigrond-gevangenis naby Mahikeng aangehou.

Anna Hough, Sharnelle se stiefma, het vroeër gesê elke hofverskyning krap weer die wonde van die verskriklike verlies aan die pragtige meisie oop. Gielie Hough (82), haar oupa, sê dat die moord op Sharnelle die hardste slag is wat hom nog ooit in sy lewe getref het.

Marna se ouers, Stefaans en Rianet Engelbrecht, wil nie met die media praat nie.

Van links is Sharnelle Hough, haar pa, Ronnie, en Marna Engelbrecht.Foto: Verskaf

Meer oor:  Xander Bylsma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.