Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens-moord: Man gaan moontlik skuld beken

Die jongste beskuldigde in die opspraakwekkende moord op Louis Siemens (54), voormalige besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in die Prellerplein-sentrum in Bloemfontein, kan dalk skuld beken.

Xolisile Mbebeto (38) van Port Elizabeth het ’n volledige bekentenis voor ’n landdros in die hof in Bloemfontein afgelê.

Hy het ook Donderdag uitwysings op die moordtoneel in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum gedoen.

Louis Siemens

Hy was glo een van die “twee huurmoordenaars” wat die sneller getrek het toe Siemens op 10 Mei in die kelderverdieping doodgeskiet is.

Die ander een is nog nie vasgetrek nie.

Mbebeto, wat ook as Botha bekend staan, het Vrydag op krukke in die landdroshof voor landdros Vuyelwa Mahamba verskyn met sy linkerbeen wat in ysters geskroef is nadat staalpenne in sy enkel gesit is.

Johan de Vries het namens die staat gevra vir ’n bevel dat Mbebeto, wat Woensdag in die Silver City-hostel in Phahameng in hegtenis geneem is, se foto geensins versprei mag word nie en dat die plek waar hy aangehou word, ook nie bekend gemaak word nie. Die aansoek is toegestaan.

Hy sê daar word vir Mbebeto se veiligheid gevrees. “Ander mense kan deur hom by die moord betrek word. Die vrees bestaan dat hy leed aangedoen kan word.”

Penelope Njokwana, wat namens Mbebeto opgetree het, sê haar kliënt het vier vorige veroordelings vir winkeldiefstal tussen 1998 en 2004.

Benewens die moord het hy geen ander sake hangende teen hom nie.

Vir een saak van winkeldiefstal het hy ’n opgeskorte vonnis gekry. Die ander kan hy nie onthou nie, want hy was in die hospitaal opgeneem.

Mbebeto, met ’n kaalgeskeerde kop en in ’n ligblou baadjie en ’n kortbroek, het ooglopend baie pyn verduur toe hy die trappies van die selle na die beskuldigdebank geklim het. Sy gesig het telkens van pyn vertrek.

Hy is sowat vier maande gelede in Kimberley raakgery. Die motor wat hom getref het waar hy langs ’n ander motor gestaan het, het weggejaag.

Voordat die hofsitting Vrydag begin het, is dit in die hof genoem dat Mbebeto se verhoor van sy medebeskuldigdes, Stanley Bakili (37), konst. Kagisho Ishael Chabane (39), ’n hofordonnans in die landdroshof in Bloemfontein, en konst. Molebatsi John Mogoera (40) van die Bayswater-polisiekantoor, geskei kan word as hy skuld beken op die aanklagte teen hom.

Sy verhoor is tot 9 November uitgestel wanneer hy saam met Bakili, wat as “die man met die geld” bekend staan, en die twee polisiemanne sal verskyn. Dié drie mans wil dan om borgtog aansoek doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.