Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens betaal miljoene se omkoopgeld, hoor hof

Die vermoorde Louis Siemens (54), besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in Bloemfontein, het sedert 2015 miljoene rande se omkoopgeld betaal om lisensies vir die uitbreiding van sy hospitaal te kry, sê die staat in sy klagstaat teen Siemens se vermeende moordenaars.

Teen die tyd van sy moord vanjaar in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum in die stad, het Siemens minstens R5,6 miljoen aan Kibi Stanley Bakili (37) van die Lilyvale-landgoed in Bloemfontein betaal, beweer die staat.

Stanley Kibi Bakili in die hof. Foto: Mlungisi Louw

Dié omkoopgeld het Bakili daarna aan ander rolspelers oorbetaal.

Netwerk24 verneem dat dié rolspelers hooggeplaastes in die staat is.

Twee polisiebeamptes, konst. Kagisho Ishael Chabane (39), ’n hofordonnans in die Bloemfonteinse landdroshof, en konst. Molebatsi John Mogoera (40) van die Bayswater-polisiekantoor in die stad, het Vrydag saam met Bakili in die landdroshof in Bloemfontein verskyn.

Adv. Johan de Nysschen, aanklaer, het voor landdros Graehymme Williams gesê die drie het saamgesweer om Siemens te vermoor.

Hoewel Bakili die baasbrein was, het die twee polisielede nou saam met hom gewerk.

Mogoera ken die twee huurmoordenaars en weet waar hulle is, het De Nysschen aan die hof gesê.

Luidens die voorlopige klagstaat het Siemens vir Bakili op 10 Mei, die dag waarop hy doodgeskiet is, in ’n restaurant in die Prellerplein-sentrum ontmoet om oor ’n kontrak te praat. Een van die sluipmoordenaars het hulle dopgehou.

’n Rukkie later het Siemens en Bakili die restaurant verlaat.

Beeldmateriaal van ’n kringtelevisiekamera in die kelderverdieping toon hoe twee skieters op Siemens losbrand toe hy uit ’n hysbak gestap het.

Die skieters het in ’n huurmotor weggejaag wat Chabane gehuur het.

Tydens die moord was Mogoera se polisievoertuig by Bakili se huis geparkeer. Mogoera en Bakili is net ná die skietery op die moordtoneel gesien, lui die klagstaat.

Die drie verskyn weer later vandeesmaand in die hof wanneer Chabane en Mogoera om borgtog sal aansoek doen.

Tshepo Thusi tree namens Mogoera op. Mvula Khoale tree namens Chabane op.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.