Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens: ‘Geld verdwyn in bodemlose put’

Die vermoorde Louis Siemens (52), wat die besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in Bloemfontein was, het roekeloos en nalatig met sy maatskappy se geld omgegaan en die aandeelhouers groot skade berokken, blyk uit ’n verslag van ’n geoktrooieerde rekenmeester wat by die hooggeregshof in die stad ingedien is.

Louis Siemens

Siemens het in 2017 drie leningsooreenkomste van byna R9 miljoen onderteken met Stanley Bakili (38), die vermeende baasbrein agter sy moord op 10 Mei verlede jaar in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum.

Luidens dié ooreenkomste sou Bakili vir Siemens help om lisensies vir die uitbreiding van die daghospitaal te bekom.

Die lenings was om Bakili se eie ondernemings uit te brei en sy politieke loopbaan te bevorder.

André Dames, die ouditeur, het Vrydag in Siemens se moordverhoor getuig Siemens het tussen Mei 2017 en Januarie 2018 in 62 betalings R4,6 miljoen uit die maatskappy Maleba Trading and Services se rekening na die maatskappy Bakili General Trading gemaak, sonder om die ander aandeelhouers in Maleba daarin te ken.

Siemens se Simela-familietrust en die maatskappy CityMed Dagteater hou onderskeidelik 51% en 49% van die aandele in Maleba.

Maleba het mediese voorraad aan CityMed en ander kliënte verskaf en gespesialiseerde mediese toerusting aan CityMed en ander hospitale verhuur.

Teen die tyd dat Siemens die ooreenkoms namens Maleba onderteken het, het hy reeds meer as R2 miljoen uit die maatskappy se rekening na Bakili oorbetaal.

In Junie 2017 is van die ander aandeelhouers se aandele aan Rauben Bell van Koos Raubenheimer en die Nienkemper-groep van Christo Nienkemper oorgedra.

In daardie tyd is ook ooreengekom dat die Simela-trust se Maleba-aandele na CityMed oorgedra word in ruil vir meer CityMed-aandele vir Siemens.

Siemens het die ekstra CityMed-aandele na homself oorgedra, maar nie die Maleba-aandele na CityMed nie.

Dames het getuig dit is sodat hy steeds beheer oor Maleba se bankrekening kon hou.

Teen die tyd dat Siemens die ooreenkoms namens Maleba onderteken het, het hy reeds meer as R2 miljoen uit die maatskappy se rekening na Bakili oorbetaal.

Siemens het ook tussen November 2017 en April 2018 altesaam R673 260 aan “GCB” in 19 betalings uit Maleba se rekening na dié van Bakili gemaak.

Dames het getuig hy het rede om te glo “GCB” is eintlik Grey College Boys Football Club.

Joseph Kgoelenya het namens sy kliënt, konst. Kagisho Ishmael Chabane, vir Dames oor die geld uitgevra en gesê Chabane was die afrigter van dié klub, wat aan Bakili behoort.

Chabane is ’n hofordonnans in die landdroshof in Bloemfontein en een van die agt beskuldigdes.

Dames het getuig in Februarie 2017 was Maleba geldelik gesond met opgehoopte reserwes van R4,3 miljoen en kontantreserwes van R2,8 miljoen.

In Februarie 2018 was die kontantreserwes uitgeput en die bankrekening met R33 514 oortrek. Maleba was tegnies bankrot.

Dames het getuig die betalings aan Bakili se maatskappy is verbloem as herstelwerk aan ’n hotel. CityMed besit die Boutique Hotel in Bloemfontein, maar geen herstelwerk is daar gedoen nie.

Siemens het die betalings aan Bakili vir sy mede-aandeelhouers geheim gehou en ook nie hul goedkeuring daarvoor gehad nie.

Adv. Johan de Nysschen (vir die staat): “Dit lyk asof die geld in ’n bodemlose put beland het en hy niks gehad het om daarvoor te wys nie?”

Dames: “Ja.”

Die verhoor gaan Maandag voort.

Meer oor:  Citymed-Daghospitaal  |  Stanley Bakili  |  Louis Siemens  |  Bloemfontein  |  Geld  |  Omkoopgeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.