Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens ‘kry kanker weens stryd vir lisensie’

Die hele proses om lisensies vir die uitbreiding van die CityMed-daghospitaal in Bloemfontein te kry, het veroorsaak dat hy positief vir kanker getoets is, het Louis Siemens, besturende direkteur van dié hospitaal, ses maande voordat hy vermoor is, gesê.

Siemens (54 toe hy dood is) sê ook in opgeneemde selfoongesprekke tussen hom en Stanley Bakili, die vermeende baasbrein agter die huurmoord op hom, die omkoopgeld wat hy aan Bakili vir die lisensies betaal het, het veroorsaak dat sy maatskappy bankrot is.

“Weet jy wat dit beteken? Die geld is op.”

Dié gesprekke word in die hooggeregshof voor regter Pitso Molitsoane deur ao. Karin Jacobs as deel van haar getuienis gespeel. Sy is ’n ontleder van die provinsiale ondersoekeenheid teen georganiseerde misdaad.

Bakili en sewe ander mans staan tereg op 11 aanklagte in verband met Siemens se huurmoord op 10 Mei 2018 in die kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum in die stad.

Weet jy wat dit beteken? Die geld is op.

In ’n gesprek in November 2017 sê Siemens hy is positief getoets. Bakili sê dié proses kan ’n einde aan sy politieke loopbaan bring.

Siemens: “Ja, ntate, maar jy is ’n jong man. Jy kan nog baie goed doen. As ek kanker het, is dit die einde van my en dit is alles as gevolg van hierdie proses.”

Bakili vra “160” (R160 000) om “’ n main man wat ons kan help” te betaal.

Siemens: “Ek doen iets teen my wil. Ek sal 100 nou doen en die 50 as ek die uitnodiging (vermoedelik ná ’n voorlegging vir die lisensies) kry.”

Bakili sê hy wil die proses eens en vir altyd afgehandel kry.

Siemens: “Hoeveel keer het jy dit al gesê?”

Hy sê hy sal vir Bakili ’n bewys van die inbetaling stuur. “Maar Stanley, jy moet die proses bestuur. Dit moet my niks meer kos nie.”

Bakili: “Dit is die heel laaste.”

In ’n vroeëre gesprek is Siemens duidelik kwaad. Hy sê vir Bakili om ’n ontmoeting te reël met die mense wat hy vir die lisensies betaal.

“Ek wil met die mense praat wat ek betaal, want hulle is in my sak. Ek wil met hulle praat.”

Ja, ntate, maar jy is ’n jong man. Jy kan nog baie goed doen. As ek kanker het, is dit die einde van my en dit is alles as gevolg van hierdie proses.

In ’n stadium sê hy: “Jy dreig my. Dreig my. Ek sal julle almal in oranje klere sit.”

Oor een van hulle sê hy: “Ek wil hom sien, want ek het hom R200 000 betaal.”

Hy wil duidelikheid hê. “Julle is besig om my te bullsh*t. Ek is moeg daarvoor. Ek wil resultate hê en ek wil dit nou hê.”

Bakili sê hy het ook sy eie probleme.

Siemens sê: “Ja. Ek het jou ’n man gemaak. Ek het jou ’n politikus gemaak. Dit het my R6 miljoen gekos om van jou ’n politikus te maak.”

Uit die gesprekke is dit duidelik dat Siemens in ’n knyptang was en die druk vir nog geld al hoe meer geword het.

Adv. Johan de Nysschen kla aan.

Die verhoor duur voort.

Jy dreig my. Dreig my. Ek sal julle almal in oranje klere sit.

Meer oor:  Louis Siemens  |  Bloemfontein  |  Siemens-Verhoor  |  Kanker  |  Hospitaallisensie  |  Hofsaak  |  Huurmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.