Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens: Beskuldigde maak glo huismoles

Die moord op Louis Siemens (54), besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal, is voorafgegaan deur huismoles in die Lilyvale-meenthuiskompleks in Bloemfontein waar sy vermeende moordenaar, Stanley Bakili (36), glo ’n week vantevore gedreig het om sy lewensmaat, Lindiwe, dood te skiet.

Lindiwe (haar van is onbekend) en haar nege maande oue baba uit ’n vorige verhouding het hom intussen verlaat nadat sy ’n beskermingsbevel teen hom gekry het.

Die vermeende moordenaar van Louis Siemens, Kibi Stanley Bakili, Maandag in die hof. Hy doen op 31 Mei om borgtog aansoek. Foto: Mike van Rooyen

Die meenthuis is in haar naam gehuur en die meubels is glo hare.

Na verneem word, het Bakili se 17-jarige broer saam met hulle in nr. 47 gebly.

Volgens inwoners van die Blue Ridge-meenthuiskompleks het die polisie opdrag gegee dat nie bekend gemaak mag word waar sy haar bevind nie.

Sedert Bakili Donderdag in hegtenis geneem is, is daar niemand in die meenthuis nie.

Bakili se swart Jeep-motor staan ook nie meer op nr. 47 se parkeerplek nie.

Tsiisetso Makhele, woordvoerder van Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, wat ook in Blue Ridge woon, het aan Netwerk24 bevestig dat Bakili in nr. 47 gewoon het.

“Ek het hom gesien, maar hom nie geken nie. Ons hoor ook maar dat hy sy vrou glo sowat ’n week gelede wou skiet. Ons weet nie of hy wettig met haar getroud is nie,” sê hy.

Intussen het dr. David Motau, hoof van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, gesê Siemens het wel aansoek gedoen om lisensies vir aansienlike uitbreidings aan die CityMed-daghospitaal by die Prellerplein-kompleks.

Vroeër is berig ’n mislukte poging om Siemens af te pers om R10 miljoen te betaal sodat CityMed lisensies vir twee bykomende operasieteaters en nog beddens kon kry, kon die rede vir die moord gewees het.

“Ons was besig om die lisensies te oorweeg en sou dit goedgekeur het sodra hy aan die vereistes voldoen het. Daar is g’n rede waarom die hospitaal die lisensies nie sou kry of steeds gaan kry nie.”

Motau het by navraag gesê hy ken Bakili nie.

Verlepte plante voor die deur van die wooneenheid in die Blue Ridge-meenthuiskompleks waar Kibi Stanley Bakili (36) gewoon het. Niemand woon tans hier nie. Foto: Marietjie Gericke

Hy ontken dat daar ’n Mafia is wat die lisensies in die Vrystaat beheer en sê goed soos dié “gee die Vrystaatse gesondheidsdepartement ’n slegte naam”.

Motau staan aan die hoof van die toekenning van lisensies aan hospitale vir teaters en beddens in die Vrystaat, maar word bygestaan deur ’n adviesraad.

Motau sê die proses wat by aansoeke gevolg word, is dat hy deur die aansoeke gaan en dit dan aan die raad gee om sekere ondersoeke te doen en met aanbevelings na hom te kom, waarna hy dit goedkeur en die lisensies geregistreer word.

Motau sê hy weet nie hoe Bakili in dié proses sou kon inpas nie. Hy werk nie eens by die Vrystaatse departement van gesondheid nie.

Op die vraag of sakelui lisensies onder die tafel of in die sluikhandel aan hospitale kan verkoop as hulle nie meer hul eie lisensies wil hê nie, sê Motau dit is onwettig.

“Mense wat van so iets bewus is, moet ons hieroor inlig.”

    Louis Siemens, sakeman van Bloemfontein, wat Donderdagmiddag op die parkeerterrein van die Prellerplein-winkelsentrum doodgeskiet is. Sy gedenkdiens is Woensdagaand om 18:00 in die saal van die Hoërskool Sentraal. Foto: Verskaf
    • Richard Rodrigues, eienaar van die Prellerplein-winkelsentrum, sê hy het Siemens goed geken.

    “Wat hier gebeur het, is ’n tragedie. Louis was ’n hardwerkende mens en baie mense het hom geken. Hy was soggens van die eerste huurders by die werk. Hy was baie toegewyd.”

    Rodrigues sê Bakili se gesig is vir hom baie bekend. “Maar ek het hom nie geken nie. Hy het dikwels in restaurante in die winkelsentrum gesit.”

    Siemens het baie met Rodrigues gepraat oor die uitbreidings aan sy daghospitaal. “Hy het gesê sy lisensies is so te sê goedgekeur. Hy moes nog net aan sekere voorvereistes voldoen het.”

    • Konst. Wendy Nkabi, polisiewoordvoerder, sê die polisie is steeds op soek na die ander twee verdagtes.
    Meer oor:  Citymed-Daghospitaal  |  Louis Siemens  |  Stanley Bakili  |  Sakeman  |  Huismoles  |  Moord
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.