Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens-moord: Bly stil, ‘Ace sal jou R500 000 gee’

“Ace sê hy sal jou R500 000 gee as jy jou mond hou.”

Só het die landdroshof in Bloemfontein Vrydag gehoor toe ’n brief van die moordverdagte Stanley (Kibi) Bakili (38) in die hof voorgelees is.

Hy is Vrydag in hegtenis geneem op nóg vier aanklagte wat verband hou met die opspraakwekkende sluipmoord op Louis Siemens (52).

Stanley Bakili (middel), die sogenaamde beplanner van die sluipmoord op Louis Siemens, word Vrydag in die streekhof in Bloemfontein in hegtenis geneem op nog aanklagte nadat hy glo ’n staatsgetuie probeer beïnvloed het. Foto: ALZANE NARRAIN

Siemens is op 10 Mei verlede jaar in die kelderverdieping van die Prellerplein-sentrum in Dan Pienaar, Bloemfontein, doodgeskiet.

’n Aansienlik maerder Bakili, wat daarvan aangekla word dat hy die baasbrein agter die moord is, word nou ook aangekla van sameswering tot moord, intimidasie, poging tot regsverydeling en van ’n oortreding van die Wet op Korrupsie nadat hy glo ’n staatsgetuie probeer beïnvloed het.

Bakili, wat op 28 Oktober saam met sy sewe beweerde makkers in die hooggeregshof in Bloemfontein moet verskyn in verband met die moord op Siemens, is net ná sy verskyning Vrydag in streekhof 17 op aanklagte van bedrog in hegtenis geneem en langsaan na hof 20 gebring.

Daar het adv. Johan de Nysschen voor landdros Ryan Ishmail ’n brief voorgelees.

Hy het gesê die brief is in Bakili se handskrif en aan Xolisile (Botha) Mbebetho gerig. Mbebetho, wat die sneller in Siemens se sluipmoord getrek het, dien 22 jaar tronkstraf in die tronk in Kimberley uit.

Die brief, vertaal uit Engels, lui: “Dit is Kibi hier. Ek is in Grootvlei saam met my medebeskuldigdes. Ek het gehoor jy gaan teen ons getuig in die verhoor en ek wil jou waarsku om dit nie te doen nie.

“Ons sal jou in die hande kry. Maak nie saak in watter tronk jy is nie. Moenie vergeet dat ons weet waar jou meisie en jou dogter woon nie en ons sal hulle ook doodmaak as jy voortgaan en teen ons getuig.

“So, moenie onnosel wees en dit doen nie, want jy sal niks kry nie.

“Ace sê hy sal jou 500 000 gee as jy jou mond hou en ons uit dié plek kom. Die keuse is joune.”

Hy geen dan ’n telefoonnommer wat Mbebetho kan bel. Dit is Bakili se ma se nommer.

Toe De Nysschen die naam “Ace” lees, het Bakili kliphard gesê: “Wie?”

De Nysschen het daarop gewys dat hy lewenslange tronkstraf opgelê kan word as hy skuldig bevind word op die aanklag dat hy ’n getuie probeer beïnvloed het.

Hy het ook gesê hy lees die brief voor sodat daar geen twyfel is oor die staat se nuwe aanklagte teen Bakili nie.

Die aanklagte sal by die klagstaat in die verhoor in die hooggeregshof bygevoeg word.

Bakili was duidelik hoogs ontsteld oor die jongste gebeure.

Hy is steeds in aanhouding omdat sy aansoek om borgtog op die aanklag van moord op Siemens misluk het, maar wil nou ook op die nuwe aanklagte om borgtog aansoek doen.

Dié aansoek sal volgende maand aangehoor word.

Masilo Koenane het vir Bakili opgetree.

  • Bakili se verhoor op 24 aanklagte van bedrog met eiendomstransaksies is in die streekhof tot volgende week uitgestel.
Meer oor:  Bloemfontein  |  Landdroshof  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.