Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens se lewe was R200 000 werd
Louis Siemens

Die huurmoordenaar wat Louis Siemens (52), voormalige besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in die Prellerplein-sentrum in Bloemfontein, doodgeskiet het, het dit vir R200 000 gedoen, het die hooggeregshof in die stad gehoor.

Die 9 mm-pistool waarmee Siemens doodgeskiet is, is glo deur ’n polisielid van die Bayswater-polisiekantoor in die stad verskaf.

Die huurmoordenaar wat die noodlottige skote die middag van 10 Mei vanjaar in die kelderverdieping van die sentrum afgevuur het, Xolisile Mbebeto (38) van Port Elizabeth, is Donderdag deur regter Celéste Reinders tot 35 jaar tronkstraf gevonnis, waarvan hy effektief 22 moet uitdien.

Hy het skuld beken en ’n vonnisooreenkoms met die staat aangegaan.

Uit die klagstaat teen Mbebeto blyk dit ook dat Siemens doodgeskiet is omdat hy gedreig het om die aap uit die mou te laat oor die minstens R5,6 miljoen in omkoopgeld wat hy al sedert 2015 aan Kibi Stanley Bakili betaal het.

Hy het dié geld op aandrang van Bakili(37) van die Lilyvale-landgoed in Bloemfontein en beweerde baasbrein agter die moordkokmplot, betaal vir die owerhede se groen lig vir die uitbreiding van die aantal beddens en geriewe in die hospitaal.

Kibi Stanley Bakili vroeër in die Bloemfonteinse landdroshof. Foto: Alzane Narrain

Siemens wou nie verder betaal nie en Bakili het besluit dat hy uit die weg geruim moet word. Hy het twee huurmoordenaars gekry. Mbebeto was een van hulle, lui die klagstaat.

In sy pleitverduideliking sê Mbebeto dat Bakili hom R200 000 aangebied het om Siemens te vermoor.

Die dag van die moord het Bakili ’n pistool aan hom gegee en gesê hy het dit by sy polisievriend van die polisiekantoor in Bayswater gekry. Bakili het ’n vergadering met Siemens belê. Hy en sy vriend, Jali, is met Bakili se wit Polo-motor na Prellerplein.

Bakili sou Mbebeto bel as die vergadering verby is en Siemens na sy motor gaan.

Jali het Siemens uit die hysbak gepluk. “Ek het na hom gestap en die pistool uit my broek gehaal en hom verskeie kere geskiet totdat hy op die vloer geval het.”

Jali was ook gewapen, maar het nie geskiet nie.

Mbebeto sê in die kelderverdieping het hy twee mans gesien wat hy vroeër ook by Bakili se huis gesien het. Hy het nie geweet wat hulle daar doen nie.

Hy het nooit sy R200 000 by Bakili gekry nie, blyk dit uit sy verklaring.

Bakili (37), konst. Kagisho Ishael Chabane (39), ’n hofordonnans in die landdroshof in Bloemfontein, en konst. Molebatsi John Mogoera (40), ’n speurder van die Bayswater-polisiekantoor, verskyn Vrydag in die landdroshof waar hulle formeel om borgtog sal aansoek doen.

Adv. Johan de Nysschen het aangekla. Peter van der Merwe van Regshulp SA het vir Mbebeto opgetree. Sers. Buyisile Jona is die ondersoekbeampte.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.