Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Siemens-verhoor: ‘Al R5 m. betaal en ek het niks’

Asof hy uit die dode in die verhoor van sy vermeende moordenaars getuig, het die stem van Louis Siemens (54), in lewe die besturende direkteur van die CityMed-daghospitaal in Bloemfontein, voor regter Pitso Molitsoane in die hooggeregshof opgeklink.

Van die opgeneemde selfoongesprekke tussen Siemens en Stanley Bakili, die vermeende baasbrein van die huurmoord op Siemens, is deur ao. Karin Jacobs, ’n ontleder van die provinsiale ondersoekeenheid teen georganiseerde misdaad, as deel van haar getuienis gespeel.

Stanley Bakili

Uit die gesprekke wat in Julie, Augustus en September 2017 opgeneem is, is dit duidelik dat Siemens nie gelukkig was met Bakili se vordering om as tussenganger lisensies vir die uitbreiding van die hospitaal te kry nie.

Hy was toe al duidelik agterdogtig omdat Bakili hom al vir maande aan ’n lyntjie gehou en geld uit hom gekry het.

“Dink aan my. Ek het R5 miljoen betaal. Al wat ek het, is beloftes. Ek het niks. Nie eens ’n stuk papier nie. Jy is nie eerlik met my nie.”

In van die gesprekke gooi Bakili wye jakkalsdraaie en paai hy dat hy eerlik is. Hy wil net dié projek afgehandel kry. “As ek uitgevang word, is ek diep in die k*k.”

Hy sê ook: “Jy maak my deurmekaar. Ek veg vir jou.”

Hy praat ook dat hy nog geld moet kry om iemand te betaal om die lisensies goedgekeur te kry.

Siemens: “Ek het hom al R1 miljoen betaal. Hoekom kan hy nie vir die laaste 100 000 wag totdat ek die dokumente in my hande het nie.”

En dan weer: “Wees eerlik met my. Jy is my man. Ek vertrou jou. Dit is hoekom ek al so baie gedoen het. Ek moet jou vertrou.”

Bietjie later in die gesprek: “Ek is nie agterdogtig nie. Ek wil net resultate hê. Ek het R5 miljoen daarvoor betaal.”

Siemens sê ook: “Ek is nou al, vir vier maande mishandel en verneder. Maar jy sal nie in my belang stel nie. Jy dink net aan jouself.”

Louis Siemens

Oor ’n afspraak met Bakili sê hy hy sal Bakili oplaai sodat hulle kan praat. “Ek praat nie weer met jou in jou huis nie want jy het my daar verneder.”

Op 1 September het Bakili weer geld gesoek. Siemens het R20 000 in die bank gehad, maar sy debietorders moes nog afgaan. Bakili het aangehou: “As ek hulle net ’n kwitansie kan wys, kan ek tyd koop.”

Bakili het gesê hy hou nie daarvan om só stuk-stuk te betaal nie.

Siemens: “As jy hulle hierdie 120 (000) gegee het, hoeveel het jy hulle al in totaal gegee?”

Bakili: “Ek dink 440 of 460. Ek sal moet kyk. Nee, dit is 440.

Siemens, sugtend: F*ck Stanley.”

Maar hy het toegegee: “Ek sal kyk of ek hierdie 20 kan oorplaas.”

Bakili staan saam met sewe ander mans in verband met die huurmoord op Siemens die middag van 10 Mei 2018 in die Kelderverdieping van die Prellerplein-winkelsentrum in die stad tereg.

Adv. Johan de Nysschen kla aan.

Meer oor:  Stanley Bakili  |  Louis Siemens  |  Bloemfontein  |  Selfoonopnames  |  Huurmoord  |  Getuienis  |  Omkoopgeld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.