Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sitole ‘lig Cele nie in’ oor uitspraak teen hom

Bheki Cele, minister van polisie, was ’n maand lank onbewus daarvan dat genl. Khehla Sitole, polisiekommissaris, en drie ander in die appèlhof in Bloemfontein bloedneus gekry het.

Sitole het glo nie sy politieke hoof ingelig dat hul aansoek om verlof tot appèl teen ’n hooggeregshof-uitspraak dat hulle die klassifikasie van dokumente “as rookskerm gebruik het”, van die hand gewys is nie.

Die dokumente is deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) versoek in sy ondersoek na die verkryging van ’n selfoonsein-onderskepper teen die opgejaagde prys van R45 miljoen.

Genl. Khehla Sitole se aansoek om verlof tot appèl teen ’n hooggeregshof-uitspraak is einde Junie van die hand gewys, maar hy het glo nooit sy politieke hoof, Bheki Cele, die minister van polisie, hieroor ingelig nie. Foto: Gallo Images/Darren Stewart

Lirandzu Themba, Cele se woordvoerder, sê hulle het eers Woensdag, toe Netwerk24 hieroor navraag doen, bewus geraak van die uitspraak. Dis reeds op 30 Junie gelewer teen Sitole, lt.genl. Lebeoana Jacob Tsumane (adjunk- nasionale kommissaris: misdaadopsporing), lt.genl. Francinah Vuma (adjunk- nasionale kommissaris: bestuursadviesdienste), en Bongani Mbindwane, spesiale raadgewer van Fikile Mbalula toe hy die minister van polisie was.

“Nie Sitole of die polisie se regsafdeling het die uitspraak van die appèlhof aan Cele of sy kantoor gekommunikeer nie,” sê Themba.

Bronne het Woensdag aan Netwerk24 bevestig dat Sitole en sy mede-applikante reeds op 30 Junie van die uitspraak teen hulle bewus was. Hulle het die aansoek om verlof tot appèl teen die uitspraak van regter Norman Davis op 1 April vanjaar by die appèlhof ingedien.

Davis het bevind dat hulle die Wet op Opod oortree het deurdat hulle nie hul volle samewerking aan Opod en sy ondersoekbeamptes gegee het nie.

Die applikante het aanvanklik geweier om deur Opod ondervra te word. Hulle het ook geweier om dokumente wat hulle as vertroulik laat klassifiseer het, te deklassifiseer en het gesê Opod moet die parlement se staande komitee oor intelligensie vra om die dokumente te deklassifiseer.

Nie Sitole of die polisie se regsafdeling het die uitspraak van die appèlhof aan Cele of sy kantoor gekommunikeer nie.

Die appèlhof het die aansoek om verlof tot appèl met koste van die hand gewys, “op grond daarvan dat daar geen redelike vooruitsig is op sukses in ’n appèl nie en dat daar geen ander dwingende rede bestaan waarom ’n appèl aangehoor moet word nie”.

Dís wat Opod ondersoek

Opod ondersoek die vier se betrokkenheid by Iview Integrated Systems, wat hy vermoed ’n korrupte verhouding is. Hulle was almal op 13 Desember 2017 op ’n vergadering met IView in ’n hotel in Pretoria.

Robert McBride, Opod se destydse hoof, het in hofstukke aangevoer hulle het die dokumente nodig om drie ondersoeke te doen oor die polisiebestuur se bande met IView.

Die dokumente is ná Davis se uitspraak aan Opod gegee.

Opod ondersoek onder meer die “noodaankoop” by IView van ’n selfoonsein-onderskepper teen R45 miljoen, terwyl die toestel se markprys tussen R7 miljoen en R10 miljoen is.

Hy ondersoek ook R33 miljoen wat in Desember 2016 aan IView betaal is vir sogenaamde Ripjar-sagteware om sosiale netwerke dop te hou tydens die #FeesMustFall-protesoptogte. McBride het in hofstukke gesê geen normale tenderprosesse is hiervoor gevolg nie.

’n Kwotasie is van IView verkry, asook nog een van die maatskappy Perfect Source Solutions. Die vrou van ’n direkteur van Perfect Source Solutions is glo die alleendirekteur van IView.

Die R33 miljoen is glo oorbetaal sonder dat daar ’n kontrak met IView was.

Misdaadintelligensie het einde 2016 ook R21 miljoen aan IView betaal vir die Daedalus-stelsel. Dit was glo om Opod se monitering van selfoonkommunikasie te blok.

Daedalus kodeer SMS’e en oproepe. Opod glo dit was om sy naspeuring te keer van kommunikasie tussen lt.genl. Khomotso Phahlane, voormalige waarnemende polisiehoof, en speurders van Noordwes onder leiding van genl.maj. Jan Mabula.

Die derde ondersoek gaan oor die aankoop van koeëlvaste baadjies by IView teen R33 000 per baadjie, terwyl die markprys tussen R5 000 en R10 000 is.

Cele het pres. Cyril Ramaphosa reeds in Maart vanjaar versoek om ondersoek te doen na Sitole se geskiktheid vir sy pos.

Tyrone Seale, Ramaphosa se woordvoerder, het destyds gesê die president oorweeg die versoek.

Lees ook: Cele vra Cyril om polisiehoof se geskiktheid te ondersoek


Meer oor:  Khehla Sitole  |  Bheki Cele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.