Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sjimpansee byt haar vinger af – sy kry nie ’n sent

’n Vrou wie se vinger afgebyt is deur ’n sjimpansee, gaan nie ’n sent vergoeding kry nie. Juliana Cromhout (69) het sowat ’n halfmiljoen rand van die skrywer en perdeteler Patricia Cavendish en twee trustees van die Cavendish O’Neill Animal Trust geëis.

Patricia Cavendish O’Neill

Regter Judith Cloete van die hooggeregshof in Kaapstad het Cavendish se aansoek – dat die saak teen hulle laat vaar word – toegestaan en ’n kostebevel teen Cromhout gemaak.

Die 94-jarige Cavendish het destyds koerantopskrifte gehaal toe sy haar plaas Broadlands Stud in Sir Lowryspas aan die sjimpansee Kalu en sy dierevriende bemaak het.

‘Sy het haar vrywillig blootgestel aan die risiko.’

Cavendish het Kalu in die vroeë 1990’s in die oorloggeteisterde Zaïre (nou die Demokratiese Republiek van die Kongo) gered. Die 30-jarige Kalu woon saam met 65 honde, ape en bobbejane op die plaas.Cavendish moes die plaas later verkoop toe haar fortuin tot niet gemaak is deur die beweerde wanadministrasie deur haar finansiële adviseur. Sy kon ingevolge die verkoopooreenkoms tot haar dood op die plaas aanbly.

Cromhout was ’n huurder op Broadlands Stud toe sy op 14 Desember 2013 met ’n sakkie vye by Kalu se hok opdaag. Kalu het volgens haar skielik haar arm gegryp, dit deur die tralies getrek, haar vinger afgebyt en dit uitgespoeg.

Kalu

Cavendish se regspan het aangevoer die sjimpansee se hok was afgesper met ’n geëlektrifiseerde heining en dat daar prominente waarskuwingsborde was. Cromhout is ook gewaarsku om nie te na aan Kalu te kom nie.

Cloete het in haar uitspraak gesê Cromhout het haar vrywillig blootgestel aan die risiko om na Kalu se hok te gaan. Cromhout moes van beter geweet het as om hom te voer omdat die sjimpansee al op twee geleenthede onvoorspelbaar en gevaarlik opgetree het. Hy het al ’n gas se vingerpunt afgebyt.

Juliana Cromhout Foto: Julian Jansen

Wernher Bock, prokureur van die Cavendish Trust, sê die trustees is verheug oor die uitslag van die hofsaak. Cromhout het gesê sy is “nie beskikbaar nie”.

Meer oor:  Kaapstad  |  Skadevergoeding  |  Eis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.