Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Sjokolade-rooftog: Vrou in hof

Die vrou wat na bewering by die rooftog van twee vragmotors se vragte sjokolade in Jetpark betrokke was, het Woensdag in camera in die streekhof in Boksburg verskyn.

Die hof het beveel dat die hofverrigtinge teen Linda Samantha Carolina Venter van Witpoortjie, Roodepoort, in dié stadium geslote vir die publiek en media sal wees omdat daar nog uitkenningsparades gehou moet word vir “verskeie uitstaande sake” teen haar. Dit sluit ook in dat daar nie foto’s van haar geneem mag word voordat die uitkennings afgehandel is nie.

Die 27-jarige vrou is Maandag deur die polisie se eenheid vir georganiseerde misdaad in hegtenis geneem vir haar beweerde aandeel in die rooftog by die sjokoladepakhuis in Jetpark, Boksburg, op 7 Augustus vanjaar.

Luidens die klagstaat is daar egter reeds twee aanklagte van gewapende roof met verswarende omstandighede teen haar.

Die aanklaer het aan landdros Emmanuel Magampa verduidelik dat dit ’n hoëprofielsaak is met nog ander uitstaande sake wat teen Venter ondersoek word. Omdat daar nog getuieverklarings uitstaande is, wat ook te doen het met haar identiteit (hoe sy lyk), is dit tans ’n risiko om haar gesig in die openbaar te wys omdat dit die ondersoek kan benadeel, het hy verduidelik.

Luidens die klagstaat is Venter se regte toe aan haar verduidelik en het sy gevra vir ’n gratis prokureur van Regshulp SA. Volgens haar het sy geen vorige veroordelings of hangende sake teen haar nie.

Daar is toe aan haar verduidelik dat sy ’n formele borgtogaansoek sal moet bring weens die erns van die aanklagte teen haar en omdat daar na bewering ’n vuurwapen gebruik is.

Die saak is daarna uitgestel tot volgende week sodat sy ’n prokureur kan aanstel. Venter bly in aanhouding in die Johannesburg-gevangenis, wat algemeen as “Sun City” bekend staan.

Die jong vrou se inhegtenisneming volg nadat beeldmateriaal van die Jetpark-rooftog destyds versprei is.

Hierop kon gesien word hoe ’n vrou oënskynlik vriendelik met veiligheidswagte en personeel gesels voordat die man by haar ’n vuurwapen uithaal en die slagoffers inderhaas op die vloer neerval. Dit blyk later dat die vrou op die beeldmateriaal ook ’n handwapen het, terwyl sy op die oog af doodluiters die slagoffers deursoek.

Dit was kort nadat dié beeldmateriaal openbaar gemaak is, dat die private ondersoeker Mike Bolhuis laat weet het dat die vrou van die Jetpark-rooftog “baie ooreenkomste” toon met die vrou wat op 31 Januarie by die moord op

dr. Freddie Malan (57) in die Jakaranda-dierehospitaal in Pretoria betrokke was.

Verdere ondersoekwerk het getoon dat ’n “sindikaat”, waarvan die vrou vermoedelik een van die leiersfigure is, verspieding by ander kleiner sakeondernemings, insluitende veeartspraktyke, gedoen het, en ook by talle ander rooftogte betrokke was. Die modus operandi was dat die goedgeklede vrou “kletspraatjies” maak en toegang tot ’n perseel verkry, waarop haar makkers dan instorm en mense beroof.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, het ook vroeër gesê die polisie vermoed dat die vrou en haar bende van ongeveer 15 mans by ander “ernstige en gewelddadige” misdade betrokke kan wees “wat sakerooftogte en moord” insluit.

Hy sê Venter is in Roodepoort in hegtenis geneem nadat die polisie inligting opgevolg het.

“Die soektog na ongeveer 15 ander verdagtes duur voort.”

Meer oor:  Randburg  |  Eenheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.