Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Iqbal Sharma borgtog geweier; bly tot Julie agter tralies

13:46 Iqbal Sharma (54), sakeman van Johannesburg en voormalige direksielid van Transnet, is Dinsdagmiddag in die Bloemfonteinse streekhof borgtog geweier.

Streeklanddros Estelle de Lange het in haar uitspraak gesê dit blyk uit die getuienis dat die staat 'n sterk saak teen Sharma het en dat hy nie kon bewys waarom hy op borgtog vrygelaat moet word nie.

Hy is verlede Woensdagoggend saam met drie staatsamptenare in hegtenis geneem op klagte van bedrog wat na bewering met die mislukte Vrede-suiwelprojek verband hou.

Twee van die Gupta-broers, Atul en Rajesh (Tony), en hul vroue (onderskeidelik Chetali en Arti) se name verskyn ook op die klagstaat in die bedrogsaak.

Die vier se verhoor is voorlopig tot 5 Julie uitgestel.

Sharma bly dus agter tralies totdat hy weer op daardie datum saam met met Peter Thabethe, voormalige hoof van die landboudepartement in die Vrystaat, Limakatso Moorosi, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement en deesdae uitvoerende hoof van Bloemwater, en Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die landboudepartement en nou adjunk-direkteur-generaal van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die Vrystaat, in die hof sal verskyn.

Hulle word onder meer van bedrog en geldwassery aangekla.

Die drie regeringsamptenare is reeds op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.


12:44 Iqbal Sharma (54), sakeman van Johannesburg en voormalige direksielid van Transnet, is ’n “wêreldburger” met toegang tot miljoene der miljoene rande in buitelandse bankrekeninge.

Dit is wat die staat aanvoer om te keer dat die streekhof in Bloemfontein borgtog aan Sharma toestaan.

Verder meen die staat Sharma gaan moontlik in die toekoms aangekla word rakende korrupsie en bedrog wat verband hou met R7 miljard se korrupte transaksies by Transnet.

Hy is verlede Woensdagoggend saam met drie staatsamptenare in hegtenis geneem vir beweerde bedrog wat met die mislukte Vrede-suiwelprojek verband hou.

Twee van die Gupta-broers, Atul en Rajesh (Tony), en hul vroue (onderskeidelik Chetali en Arti) se name verskyn ook op die klagstaat in die bedrogsaak.

Iqbal Sharma Dinsdagoggend in die streekhof in Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw
Sharma is sedert hy verlede Woensdag in hegtenis geneem is in polisieaanhouding en doen tans om borgtog aansoek. Foto: Mlungisi Louw

Sharma, ’n vermeende meeloper van die Gupta-familie, wat vir verreikende staatskaping in Suid-Afrika verantwoordelik gehou word, het ’n maatskappy wat bedryf word uit Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE), waar hy ook verblyfsreg het, het die hof Woensdagoggend gehoor.

Die staat meen geen bedrag bortgtoggeld kan as teengewig gebruik word om te keer dat Sharma landuit vlug nie.

Die hof het gehoor in 2016 het meer as R264 miljoen in Sharma se Dubaise maatskappy, Issar Global, se bankrekeninge ingevloei.

Hy was die afgelope tien jaar 100 keer op besoek in Dubai, waar lede van die Gupta-familie nou woon.

iqbal sharma, tarina
Iqbal Sharma en sy vrou, Tarina Patel, op 'n glansgeleentheid in Johannesburg in 2019. Foto: Gallo Images

Die staat skryf in betooghoofde voor die hof Sharma is ’n “enorme vlugrisiko” en sal waarskynlik na Dubai vlug, waar hy buite die bereik van die Suid-Afrikaanse owerhede sal wees.

Die staat het ter stawing gemeld die VAE het in die verlede min bystand in uitleweringsprosesse verleen.

Die staat voer voorts aan dat Sharma die hof bedrieg deur te sê die meeste van sy eiendom en bates is in Suid-Afrika.

Volgens die staat maak dit minder as 10% uit van al die bates en eiendom wat hy besit.

Die Brits-gebore Sharma het eers in sy twintigerjare in 1994 na Suid-Afrika gekom en het familiebande met mense in Amerika en Indië.

Hy is Frans, Engels, Urdu en Hindoe magtig.

Hoewel hy in die Verenigde Koninkryk gebore is, het hy in verskeie dele van die wêreld basiese en tersiêre onderrig ontvang.

Die hof het gehoor hy het sedert 2010 altesaam 128 keer na die buiteland gereis.

Adv. Stefanus Coetzee, SC, tree in opdrag van die maatskappy Dollie Incorporated namens Sharma op.

Coetzee het Maandag ter ondersteuning van borgtog aangevoer Sharma beskou Suid-Afrika as sy permanente tuiste en as hy in aanhouding bly, belemmer dit sy kans op ’n regverdige verhoor.

Die luukse huis in Sandton wat aan Iqbal Sharma behoort. Foto: Skermgreep/Top Billing

Hy het ook onderneem om nie met staatsgetuies in te meng nie.

Sharma het ook enige verbintenis met die Gupta-familie ontken.

Coetzee het Woensdag in antwoord op die staat betoog dit is so dat Sharma baie na die buiteland gereis het, maar dat baie daarvan in die tyd was toe hy adjunk-direkteur generaal van handel en nywerheid was.

Ander reise was vir besigheid, aangesien hy is 'n internasionale sakeman is, en dan het hy ook vir plesier gereis."Hy het elke keer teruggekeer. Hy kies om nie te vlug nie. Hy beskou Suid-Afrika as sy huis."

Die aansoek, wat deur streeklanddros Estelle de Lange aangehoor word, duur voort.

Die drie medebeskuldigdes wat saam met Sharma aangekeer is, is reeds op borgtog vrygelaat.

Peter Thabethe, voormalige hoof van die landboudepartement in die Vrystaat, is Maandagoggend op borgtog van R10 000 vrygelaat.

Limakatso Moorosi, voormalige hoof van die Vrystaatse landboudepartement en deesdae uitvoerende hoof van Bloemwater, en Seipati Dlamini, voormalige finansiële hoof van die landboudepartement en nou adjunk-direkteur-generaal van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) in die Vrystaat, is verlede Donderdag, met hul eerste hofverskyning, op borgtog van R10 000 elk vrygelaat.

Thabethe, Sharma, sy maatskappy, Nulane Investment 204 Pty Ltd, Moorosi en Dlamini se verskyning spruit uit volhoubaarheidstudies vir moontlike projekte van die landboudepartement in 2011 waarvoor Sharma en Nulane sowat R24,9 miljoen betaal is.

Volgens die staat was die studie ’n rookskerm om die bedrieglike Estina-suiwelprojek by Vrede te begin, waaruit sowat R288 miljoen gevloei het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.