Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Skermutseling vat aandag weg van jong Zuma

Gemoedere het Donderdag hoog geloop buite die landdroshof in Randburg waar Duduzane Zuma, seun van oudpres. Jacob Zuma, op twee aanklagte van strafbare manslag verskyn het.

Nadat Duduzane (34) weg is by die hof, was daar chaos toe Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, joernaliste buite die hof oor die saak wou toespreek. Lede van die Black First Land First (BLF)-organisasie het probeer keer dat Kriel praat. Hulle het ook joernaliste probeer keer om hul werk te doen.

Kallie Kriel word buite die hof deur BLF se leier Andile Mngxitama gekonfronteer. Foto: Felix Dlangamandla

Hulle is woedend dat die saak teen Duduzane voortgaan omdat daar ’n vorige keer besluit is om hom nie te vervolg nie. BLF-lede het Kriel uit die staanspoor vir ’n rassis uitgekryt, en gesê “dat hulle nie sal toelaat dat ’n rassis namens hul mense praat nie”.

Andile Mngxitama, leier van die BLF, het verder daarop aangedring dat die media oor die waarheid verslag doen en moet ophou om partydig te wees.

“Dit is terrorisme van witmonopoliekapitaliste. Ons moet duidelik wees: Enige wit persoon wat aan ons raak, ons sal hulle hel toe stuur,” sê Mngxitama.

Gedeeltes van die voorval is op video vasgevang.

Lindsay Maasdorp van die BLF beweer dat hy in die chaos deur Hanno Labuschagne, ’n TV-kameraman van kykNET, aangerand is.

“Kyk hierna – hy het my op my mond geslaan! Is hy ’n joernalis? ’n Wit f*kk*n setlaar het my geslaan – het julle dit gesien?” het Maasdorp vir omstanders geskreeu.

In ’n video van Netwerk24 kan Labuschagne gesien word terwyl hy omdraai en opmerk dat hy net sy werk doen.

’n Vrou, duidelik ook ’n lid van BLF, agtervolg Labuschagne en skreeu verder op hom dat hy ’n rassis is. In ’n stadium slaan sy hom op sy rug en sê hy moet f*kk*f.

Labuschagne ontken dat hy Maasdorp geslaan het.

Hanno Labuschagne, die kameraman van kykNET word rondgepluk deur lede van BLF.Foto: Felix Dlangamandla

Volgens hom was daar ’n redelike deurmekaarspul op die trap en het baie mense aan mekaar gestamp en stoot.

Maasdorp is dieselfde man wat Maandag buite die handelshof in Johannesburg afgeneem is waar Duduzane op aanklag van korrupsie verskyn het. Toe het hy op die media gevloek en joernaliste gedreig, het EWN berig.

Kriel sê in ’n nuusverklaring dat hy hom nie sal laat intimideer “deur ’n klein groepie randfigure wat deur die Guptas gefinansier word nie”.

“Inteendeel, die BLF se optrede maak AfriForum meer vasberade om toe te sien dat geregtigheid vir die Dube-familie geskied,” sê Kriel.

Volgens hom kan die meeste mense in die land hulself nie met die onverdraagsaamheid en rassisme van die BLF vereenselwig nie.

AfriForum sal nie ’n klag teen die BLF indien en hulle sodoende verdere publisiteit gee nie.

Ná afloop van die voorval het die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum aangedui dat hulle Vrydag ’n nuusverklaring hieroor sal uitreik.

Tim du Plessis, hoof van nuus en aktualiteit by kykNET, het Donderdag ook gesê hulle oorweeg geen stappe teen die BLF nie, “maar dat hulle sal optree om hul joernaliste en eiendom te beskerm”.

“Ons veroordeel alle pogings wat die media intimideer en verhinder om hul werk op nuustonele te doen,” sê Du Plessis.

By die hof is daar heelwat bespiegel oor die aantal privaat veiligheidswagte waarmee Duduzane opgedaag het.

AfriForum sou Duduzane privaat vervolg indien die nasionale vervolgingsgesag (NVG) nie besluit het om hom te vervolg vir die dood van twee mense nie – Phumzile Dube en Jeanette Mashaba.

Volgens AfriForum het Duduzane in Februarie 2014 op die M1 in Johannesburg met sy Porsche agterin ’n minibustaxi vasgejaag. Dube, ’n passasier in die taxi, is op slag dood en drie ander insittendes is beseer. ’n Tweede vrou, Mashaba, is ’n paar weke later dood.

In Julie 2014 het die NVG geweier om Duduzane te vervolg weens onvoldoende bewyse. Die NVG het in 2015 weer besluit om hom nie te vervolg nie.

Phindi Mjonodwane, woordvoerder van die NVG, het aan EWN gesê hulle het intussen van plan verander nadat ’n geregtelike doodsondersoek gedoen is en daar nuwe inligting na vore gekom het wat hulle laat besluit het om hom te vervolg.

Donderdag was die tweede keer dat Duduzane in die hof verskyn het. Hy is Maandag op borgtog van R100 000 vrygelaat nadat hy in die handelshof in Johannesburg op aanklag van korrupsie in die beskuldigdebank was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.