Die man wat na bewering vir JB Strydom in die parkeerterrein van ’n Pretoriase winkelsentrum doodgeskiet het, is Woensdag borgtog van R8 000 toegestaan.
Carlo Arendse (45), van Midstream naby Centurion, is kort ná die voorval Maandag in die Menlyn Maine-sentrum se parkeerterrein gearresteer vir moord, die rig van ’n vuurwapen en intimidasie.

Carlo Arendse Woensdag in die hof.Foto: Deaan Vivier
Hy word daarvan beskuldig dat hy die 44-jarige Strydom, ’n pa van drie kinders, in die bors geskiet het toe dié glo ’n vriend tydens ’n bakleiery wou help.
Luidens Arendse se borgtogverklaring blyk dit egter of hy sal aanvoer dat hy Strydom uit selfverdediging geskiet het nadat hy (Arendse) sowel as sy motorbestuurder glo aangerand is.
Arendse is luidens sy verklaring die direkteur van ’n steenkoolverwerkingsmaatskappy.
Kagiso Rancho, aanklaer, het gesê Arendse is nie ’n vlugrisiko nie en het geen hangende sake teen hom nie. Die ondersoekbeampte staan ook nie sy vrylating op borgtog teen nie.
Landdros Thandi Theledi het hierop borgtog toegestaan op voorwaarde dat Arendse sy paspoort inhandig, hom een keer ’n week by die polisie aanmeld, en geen kontak met Strydom se vriende mag hê wat op die toneel tydens die voorval was nie.
Die saak is uitgestel tot Maart vir verdere ondersoek.
* Meer volg later.