Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Skoolmeisie ontken betrokkenheid by ontvoering

Die 18-jarige matriekleerling van Gugulethu wat daarvan aangekla is dat sy ’n babaseuntjie van twee maande oud ontvoer het, ontken die beweringe teen haar.

Karabo Tau het Donderdag grappies en soentjies gedeel met haar familie wat haar kom ondersteun het.Foto: Maygene de Wee

Karabo Tau het Donderdag in haar skooluniform getuig in haar borgtogaansoek.

Sy het getuig die polisie het haar gedwing om ’n verklaring af te lê en dat hulle haar ook voorgesê het wat om in die verklaring te skryf. Tot vier speurders het haar ondervra op die dag wat sy in hegtenis geneem is.

Sy was vreesbevange, alleen, bang en getraumatiseerd.

Tau het getuig die speurders het vir haar gesê haar hele lewe sal vernietig wees as sy nie erken dat sy die baba ontvoer het nie.

“Hulle het gesê hulle weet van sindikate van buitelanders wat met Suid-Afrikaners saamwerk om kinders te steel. Twee speurders het gesê dat hulle pas uit Bloemfontein van so ’n saak teruggekeer het.”

Hulle het glo ook gesê dat hulle sal verseker dat sy gou op borgtog vrygelaat word as sy die waarheid vertel en wou weet wat die name is van die buitelanders met wie sy glo saamgewerk het om klein Kwahlelwa Tiwane te ontvoer.

Tau het getuig sy het uit vrees gesê dat ’n Ely Kibunda, ’n buitelandse inwoner wat sy ’n jaar gelede ontmoet het, en ene Osizwe, nog ’n buitelander wat sy ken, saam met haar by die ontvoering betrokke is.

Kwahlelwa Tiwane
Die baba Kwahlelwa Tiwane. Foto: SAPD

Volgens haar getuienis is die twee mans die enigste buitelanders wat sy ken. Sy het hulle glo op Facebook ontmoet.

Sy het ontken dat die twee mans of sy by die baba se ontvoering betrokke is.

Sy het gesê dat sy op 16 Januarie, die dag van die ontvoering, tot 15:00 by die skool was. Sy is in matriek aan die Claremont High School in Kaapstad.

“Ek het ook die bewyse om dit te staaf.”

Die staatsaanklaer, Tobinceba Matroos, het tydens kruisondervraging aan Tau gesê sy wil nou in die getuiebank slagoffer speel, maar dat hy geen trane sien nie.

“Hoe weet jy ek huil nie? En of ek nou huil of nie, jy het klaar gesê ek het die kind gesteel. Ek het reeds genoeg gehuil, trane sal nie verander wat jy dink nie.”

Sy het ontken dat sy ooit vir Asanda Tiwane, die baba se ma, ontmoet het, dat sy by haar huis in Makhaza was of dat sy op 16 Januarie in Makhaza was of saam met haar na Parow is.

Thokozile Godana, een van haar onderwysers, het getuig dat Tau die dag van die beweerde ontvoering tot 15:00 in haar klas was. Sy het getuig dat sy net 18 leerlinge in die isiXhosa-klas het.

Op ’n stelling van Matroos dat sy Tau met dié getuienis wil beskerm, het Godana gesê sy is 100% seker dat Tau in haar klas was. “Sy het heel voor in die klas gesit,” het sy getuig.

Die skool se tegnologie-bestuurder, Johan Thompson, het getuig oor beeldmateriaal waarop Tau op 16 Desember by die skool afgeneem is.

Hy het gesê dat die skoolhoof hom ’n foto van Tau gewys het en gesê het hy moet haar op die beeldmateriaal soek. Hy het voor dit nie eens geweet wie sy is of hoe sy lyk nie.

Volgens die skermgreep van die beeldmateriaal wat in die hof gewys is, was Tau die Donderdag tot 15:26:45 nog by die skool.

Thompson het egter gesê dat die tyd op die video 20 minute voor is. Hy het onder Matroos se kruisondervraging ontken dat hy met die tyd en datum van die beeldmateriaal gepeuter het. Hy sê as daar fout is met die tyd en datum, kan dit reggemaak word, maar niemand kan verander aan iets wat reeds afgeneem is nie. Dit is volgens hom geënkodeer.

Landdros Charles Scott het gesê omdat daar Vrydag weer beurtkrag gaan wees, word die saak uitgestel tot Dinsdag 11 Februarie vir argumente. Tau bly in aanhouding. Die soektog na die baba gaan voort.

Sulaiman Chotia verteenwoordig vir Tau.

Meer oor:  Kwahlelwa Tiwane  |  Karabo Tau  |  Kaapstad  |  Skoolmeisie  |  Baba  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.