Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Skoot met geweer sou genadiger gewees het, hoor hof

Dit sou genadiger gewees het om op ’n kort afstand met ’n haelgeweer doodgeskiet te word as die grusame lyding waaraan ’n bejaarde inwoner van Jeffreysbaai onderwerp is.

Só het Marius Stander, staatsaanklaer, Maandag in die hooggeregshof in Gqeberha gesê oor die dood van die 79-jarige Johannes Marx, wat volgens hom op een van die wreedste moontlike maniere vermoor is.

Hy het gesê sy moordenaars verdien niks minder as lewenslange tronkstraf nie.

Lunga Welkom (voor) en Masixole Mbeki verlaat Maandagmiddag die beskuldigdebank in die hooggeregshof in Gqeberha. Foto: Cara-Lee Dorfling

Veiligheidswagte het op 12 November 2019 Marx se lyk in sy huis aangetref. Hy was die pa van adv. Zelda Swanepoel, wat as ’n senior staatsaanklaer aan die Valke se kantoor in Gqeberha verbonde is.

Lunga Welkom (29) en Masixole Mbeki (34) het in Desember skuld op die moord op Marx beken.

Die hof het Maandag gehoor die proefbeampte se verslag het aangedui dat dit Mbeki se beroep was om mense te beroof.

Regter Irma Schoeman het adv. Johan van der Spuy, albei beskuldigdes se regsverteenwoordiger, ten tyde van sy betoë ter strafversagting gevra om ’n verduideliking hieroor te gee, aangesien sy meen dat dit ’n beskrywing van Mbeki se karakter is.

Van der Spuy het gesê die verslag is akkuraat en hy kan nie die punt verder voer nie.

Netwerk24 het vroeër berig die ondersoekbeampte, ao. Shane Bosch, het die moordtoneel as een van die grusaamste in sy loopbaan beskryf.

Die hof het gehoor Marx is aangerand en sy hande en voete, asook bolyf, is met ’n tou aan ’n eetkamerstoel vasgebind. Kouse is in sy mond gedruk en kleeflint om sy kop gedraai. Boonop is ’n plastieksak oor sy kop getrek en met ’n tou om sy nek vasgetrek. Sy kop is met ’n handdoek agteroor getrek, waarna die handdoekpunte aan die stoel vasgebind is voordat drie komberse oor hom gegooi en met toue vasgebind is.

Weens die hitte van die lae komberse het Marx se lyk ook begin ontbind.

Op die oggend van sy moord het die moordenaars hom ingewag by sy huis voordat hy sou ry om tuindienste te verrig.

Van der Spuy het aan die hof gesê sy kliënte het nie beplan om Marx te vermoor nie.

Hy het die hof gevra om in gedagte te hou dat Marx nie op ’n grusame wyse vermoor is – deur herhaaldelik met ’n voorwerp aangerand te word – soos die howe gedurig hoor bejaardes gemartel en vermoor word nie.

“Dit was ’n geval van ’n dom besluit, waar iets in die slagoffer se mond gedruk is om hom stil te hou.”

Hy het erken dat sy kliënte aan ’n ernstige misdaad skuldig bevind is en vir ’n lang tydperk tronk toe sal gaan, maar hy het die hof gevra om nie uit woede te straf nie, maar eerder ’n balans tussen die onderskeie faktore te vind.

In reaksie het Stander gesê hy verskil van Van der Spuy en het aangevoer dat Marx wreed vermoor is.

Swanepoel het vroeër getuig haar pa het aan engtevrees gely en sy is oortuig dat haar pa op ’n verskriklike manier dood is.

“Ek dink nie dit is moontlik dat trauma toegedien kon word wat meer pynlik, uitgerek, vernederend en grusaam as sy moord is nie.

Dit was barbaarse optrede. Die oorledene is aangerand en op ’n vreeslike wyse vasgebind.

Deur hom op ’n kort afstand met ’n haelgeweer te skiet sou ’n genadedood wees teenoor die lyding wat hy deurgemaak het, het Stander gesê.

Hy het daarop gewys dat die beskuldigdes nie net Marx se huis vir waardevolle goedere deursoek het nie, hulle het die huis vernietig so ver hulle kon deur kaste af te breek, deure stukkend te skop en vrieskaste vol vleis af te skakel.

“Dit dui op ’n algehele gebrek aan respek vir lewe en die waarde van eiendom.

“Dit was barbaarse optrede. Die oorledene is aangerand en op ’n vreeslike wyse vasgebind. Nie eens ’n mens sal ’n dier vasbind soos die oorledene vasgebind is ná die ernstige beserings wat hy toegedien is nie.”

Hoewel Van der Spuy aangevoer het dat die beskuldigdes uit geldnood op Marx toegesak het, sê Stander dat die feite voor die hof daarop dui dat hul optrede nie om oorlewing was nie. Dit was om Marx se bankkaarte vir onder meer die koop van duur drank en skoene te gebruik, maar geen kos nie. Geen kruideniersware is by Marx se huis gesteel nie.

Stander het gesê die feit dat die beskuldigdes skuld beken het, kan ook nie as berou gesien word nie. Hulle het skuld beken omdat die getuienis teen hulle oorweldigend was.

Die saak is vir vonnis tot Donderdag uitgestel.

Meer oor:  Johannes Marx  |  Haelgeweer  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.