Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Hof
Skoot met windbuks keer hul rustige lewe om

Dit moes ’n rustige Sondagmiddag gewees het vir Morné Swart en sy vrou, Sandra (30), by hul dubbelverdieping-huurhuis in Olympus in die ooste van Pretoria.

Morné en Sandra Swart. Foto: Facebook

Hy het op die bank gelê en televisie kyk en Sandra het by hom gesit. ’n Uur later was hul buurman dood en Sandra in die tronk.

’n Emosionele Morné sê hy en Sandra sukkel nog om tot verhaal te kom. Hulle lewens is binne ’n oogwink omvergewerp toe Sandra in frustrasie ’n enkele skoot met Morné se windbuks afgevuur het.

Volgens die polisie het dit hul buurman, Claude Lombard (49), getref.

Morné sê Claude het lawaai by die kompleks se swembad digby hul huis.

“Sandra het op die balkon gaan staan en vir Claude gevra om stiller te wees,” vertel Morné.

'Hy was aggressief en het vir haar gesê f*k jou.’

“Hy was aggressief en het vir haar gesê f*k jou. Sandra het haar toe vir hom vererg. Sy het in die deur van die huis gestaan en my windbuks gevat wat in die deur gestaan het. Die windbuks was gelaai en sy het ’n skoot afgevuur,” sê hy.

Morné sê Sandra het nie haar bril opgehad nie en daarsonder sou sy nie kon mik nie. Hy is nie eens seker of sy wel vir Claude raakgeskiet het nie.

“As sy hom raakgeskiet het was dit bloot ’n fratsongeluk.”

Morné sê Claude het omgedraai en weggestap en daar was geen aanduiding dat hy moontlik getref is nie.

“Sandra het toe op die rusbank kom lê en ek is kamer toe vir my middagslapie.”

Hulle het eers besef iets is fout toe die ambulans en die polisie later opdaag, sê Morné.

“Sandra het my geskok kom wakker maak om te sê die polisie wil haar in hegtenis neem. Ek was heeltemal uit die veld geslaan en ek kon nie verstaan waarvan sy praat nie. Ek het toe by die trappe afgeloop. Toe ek die polisie onder kry, het ek besef daar is groot fout.”

Sandra het reeds in die hof verskyn, maar haar saak is uitgestel vir ’n borgtogaansoek. Intussen word sy aangehou.

“Ek kry my vrou verskriklik jammer. Sy is ’n klein, fyn, liefdevolle en sagte mens en sy is baie ordentlik. Sy verdien nie om in hierdie situasie te wees nie.

“My hart gaan ook uit na Claude se familie. Dit is ’n fratsongeluk wat nooit moes gebeur het nie.”

Morné sê hy verkwalik homself dat hy nie die situasie vroeër hanteer het nie.

“Ons was al ’n geruime tyd krapperig omdat ander huurders die swembad gebruik het sonder om te hou by ’n ooreenkoms om by te dra tot die instandhouding daarvan. Ons het die swembad uit ons eie sak versorg en moes boonop mense verdra wat raserig en onbedagsaam was wanneer hulle die swembad gebruik,” sê Morné.

Hy sê die windbuks het by die voordeur gestaan om wilde katte en slange te verjaag.

“Sandra het nog nooit die windbuks gebruik nie. Sy het nie krag om die windbuks te laai nie.”

Morné sê hy skat die windbuks is tussen 20 en 30 jaar oud. “Ek het dit ’n tyd gelede by ’n tweedehandse winkel gekoop.”

Claude was ’n bekroonde blokman.

Volgens sy niggie, Tokkie du Preez, is hy vermoedelik in die mond getref. Sy gesig was vol bloed toe hy dood is.

Die nadoodse ondersoek is nog nie afgehandel nie.

Meer oor:  Sandra Swart  |  Claude Lombard  |  Skietvoorval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.